YouVersion Logo
Search Icon

Die Alfabet Van OorvloedSample

Die Alfabet Van Oorvloed

DAY 1 OF 7

Eenvoud

Lees Sagaria 3:10

Oordenking

Onlangs woon ons ’n troue in die Tsitsikamma by. Vanaf die wit plaaskerkie waar die plegtigheid plaasvind, kan ’n mens ver kyk. Agter ons, daar na die N2 se kant toe, lê die berge in blou en grys en pers skakerings. Heide en fynbos vul die voetheuwels se voue.

En ek dink aan Sagaria 3:10: “Daardie dag, sê die Here die Almagtige, sal die mense weer rustig oor en weer na mekaar roep onder die wingerdstokke en die vyebome.”

By die geleentheid van ’n huweliksluiting, by hierdie viering van die liefde, kom ’n mens tot stilstand, en jy word herinner aan dít waaroor dit regtig in die huwelik gaan.

Ongelukkig word ons maklik meegevoer en mislei. Ons probeer standaarde navolg wat ander stel. En niks mág skeefloop nie! Ons wy ons tyd en energie aan ’n magdom klein en groot voorbereidings – terwyl die liefde, dit waaroor dit éintlik gaan, maklik ’n nagedagte word. Dit mag nie so wees nie.

Die liefde is die beginpunt. Dit moet voor in die ry staan.

Dit is nodig dat gesinne en families en gemeenskappe na die kern terugkeer. Ons moet weer ontdek watter krag in die doodgewone opgesluit is, hoe om sin in die alledaagse te vind.

Ernst Friedrich Schumacher, die Duitsgebore Britse ekonoom, skryf in sy boek Small is beautiful dat eenvoud die krag het om ons met ’n diepe, blywende tevredenheid te vul. Geluk lê in die onopgesmukte. In opregte vriendskap. In gesinslede wat mekaar versorg. In onvoorwaardelike liefde.

Wanneer God die spilpunt van ons bestaan is, vind alles hulle regte plek. Die vakuum is gevul. En Sagaria se woorde word waar, ook in óns lewe, elke dag: Mense sal weer rustig na mekaar roep onder die wingerdstokke en vyebome.

So eenvoudig. Maar tegelyk so ryk en betekenisvol.

Stilword

Vader, dankie dat ek U in die eenvoud van die lewe kan beleef. Mag die eenvoudige dinge in die lewe my hart weer aanraak en roer. Dankie dat U die spilpunt van my bestaan is; dat ek in die eenvoudige dinge van die lewe u krag en genade kan sien. Amen.

Day 2

About this Plan

Die Alfabet Van Oorvloed

’n Oorvloed lewenservarings vertel van die genade wat God vir jou het. Dié groeiplan maak jou bewus van hierdie ervarings. Dit wys vir jou dat jy in die gewone loop van ’n dag ook genade kan vind. Maak vir jou ’n koppie koffie of tee en word stil by God. Laat die gloed van sy teenwoordigheid deursyfer tot teen jou vel, tot in jou hart en in jou gedagtes.

More