YouVersion Logo
Search Icon

Die Alfabet Van OorvloedSample

Die Alfabet Van Oorvloed

DAY 3 OF 7

Lag

Lees Filippense 4:4

Oordenking

Die befaamde digter, Uys Krige, het op ’n keer geskryf: “Die lag is iets heerliks. Iets heiligs. ’n Gawe van God. Die lag is van die mens, die grond, die aarde. En hoe nader jy aan die aarde kom, hoe nader kom jy aan die hemel.”

Kinders lag maklik. Hulle gee hulle oor aan ’n vreugde-oomblik – sonder om oor môre te tob. ’n Vriendin vertel van haar kleuterdogtertjie wat soggens wakker word, die slaapkamergordyne oop pluk en uitroep: “Môre, Son! Môre, Wind! Môre, al die voëltjies in die boom!”

Om vir jouself te kan lag is ’n bate vir almal rondom jou, én vir jouself. Dit is trouens niks minder nie as ’n groot guns wat jy aan jouself bewys.

Sommige mense is van nature positiewer as ander, met meer lewensvreugde. Daar is wel dié wat dit moet aanleer om die lewe se blydskap-kant raak te sien, om hulle kop na die son te draai.

Ons is hier vir mekaar. Ons moet saam lag, saam bly wees. Ons moet mekaar oppas en mekaar vreugde gun. Ons moet in mense belê – ons gesin, familie en vriende. Ons moet ons vreugde in mekaar vind, want ons is deel van die ewigheid. Net soos ware geluk ’n deel van die ewigheid is.

Stilword

Heilige Gees, U woon in my. Daaroor is ek verheug. Dankie dat ek kan lag. Dankie dat ek saam met familie kan lag. Seën elke vreugde in my huis. Help my ook om saggies na u fluistering in die windstilte te luister. Amen.

Day 2Day 4

About this Plan

Die Alfabet Van Oorvloed

’n Oorvloed lewenservarings vertel van die genade wat God vir jou het. Dié groeiplan maak jou bewus van hierdie ervarings. Dit wys vir jou dat jy in die gewone loop van ’n dag ook genade kan vind. Maak vir jou ’n koppie koffie of tee en word stil by God. Laat die gloed van sy teenwoordigheid deursyfer tot teen jou vel, tot in jou hart en in jou gedagtes.

More