YouVersion Logo
Search Icon

Die Alfabet Van OorvloedSample

Die Alfabet Van Oorvloed

DAY 5 OF 7

Woorde

Lees Johannes 15:12-14

Oordenking

In Agnès de Lestrade se bekoorlike kinderboek Die land van die groot woordfabriek word die belangrikheid van woorde subtiel aan die kinderleser oorgedra.

Jy sien, in hierdie land is woorde skaars; jy moet hulle koop en insluk om hulle te kan uitspreek. Sommige is onbetaalbaar en kan net deur die rykes bekostig word – wat dit dan met selfvoldane meerderwaardigheid uitspreek.

Die skrywer sê dan ook: “Praat is duur in die land van die groot woordfabriek.”

Mense wat nie geld het nie, soek soms in asblikke na weggegooide woorde. En in die lente kan jy ’n klomp goedkoop woorde by uitverkopings kry. Op winderige dae vang die kinders soms woorde met ’n skoenlappernet. Saans, tydens aandete, spreek hulle dan hierdie woorde uit. Tot hulle ouers se groot verbasing en trots.

Die hoofkarakter, Daniel, bêre drie woorde wat hy in sy net gevang het. Hy spaar dit vir ’n spesiale dogtertjie.

’n Grootpraterige ryk seun spring hom egter voor en bulder selfversekerd: “Ek het jou lief met my hele hart, my Hanli! Eendag, as ons groot is, gaan ek met jou trou!”

Dié woorde laat Daniel terugdeins. Hy besef dat hulle ’n fortuin moes gekos het. Tog waag hy dit om sy drie eenvoudige woorde uit te spreek: “Kersie! Stof! Stoel!”

“Die woorde vlieg soos skitterende skoenlappers na Hanli,” skryf De Lestrade. En die wonderwerk gebeur: Hanli buig oor na Daniel en gee hom ’n soentjie op die wang. Sy het nie ’n magdom woorde nodig gehad om sy opregte hart te hoor nie.

Dietrich Bonhoeffer, die bekende Duitse teoloog, herinner ons daaraan dat die kragtigste woorde meestal in stilte gebore word en vanuit stilte gespreek word.

Jesus is vir ons die beste voorbeeld hiervan. Telkens voordat Hy groot skares toegespreek en geleer het, het Hy eers in sy Vader se teenwoordigheid stil geword. Sy krag en wysheid het van God gekom. Sy woorde en dade het van God se liefde getuig, nie van haat en oordeel en verdoemenis nie.

Deur al die duisende Bybelwoorde heen kom daar weer en weer een kernboodskap na vore: God het ons lief. Sy hartsbegeerte is dat ons Hom ook sal liefhê. Ons moet ons liefde vir Hom wys deur mekaar lief te hê. Dit is dit.

Stilword

Here, ek prys en dank U met woorde. Soms gebrekkige woorde. Dankie vir die gawe van woorde, om te kan deel in die skep van woord-wêrelde. Mag die woorde waarmee ek elke dag besig is, lig en lewe bring, getuig van u goedheid en genade. Dankie dat ek kan weet die Heilige Gees bring my woorde by U uit. Ek wil U loof en prys met elke woord wat ek in my het. Amen.

Scripture

Day 4Day 6

About this Plan

Die Alfabet Van Oorvloed

’n Oorvloed lewenservarings vertel van die genade wat God vir jou het. Dié groeiplan maak jou bewus van hierdie ervarings. Dit wys vir jou dat jy in die gewone loop van ’n dag ook genade kan vind. Maak vir jou ’n koppie koffie of tee en word stil by God. Laat die gloed van sy teenwoordigheid deursyfer tot teen jou vel, tot in jou hart en in jou gedagtes.

More