YouVersion Logo
Search Icon

Die Alfabet Van OorvloedSample

Die Alfabet Van Oorvloed

DAY 2 OF 7

Brood

Lees Matteus 6:11

Oordenking

Ek kom uit ’n geslag van gulhartige vroue. My ouma en my ma het met die Bybelse maat gegee: goed ingestamp en propvol gemaak. Kos en liefde en versorging. Want dié drie loop hand aan hand. Daar was nie klein bakkies in hulle kaste nie, want hulle het nie effentjies kos gemaak nie. Ma het gróót geknie – brood, beskuit, ander baksels. ’n Pan het die oond vól gestaan: Een brood was die ekwivalent van drie uit die winkel.

Vir my was dit altyd die mooiste wanneer my ma die panne “opmaak”: Elke brood word liefderik in sy eie pan lê-gemaak en met ’n sagte kombers (die “broodkombers”) toegevou om te rys. Alles met dieselfde sorg waarmee sy ons kinders met slaaptyd toegemaak het. Ek het geweet: Dit is hoe liefde lyk. Vandag nog dra ek daardie geborgenheid met my saam.

Toe ek die eerste keer voor my eie skottel brooddeeg staan – my ma se yslike pan gesmeer en reg vir sy ruim vrag – het ek as’t ware onder haar vel ingeklim en begin knie. Ek kon voel hoe die deeg onder my kneukels begin meegee. En ek het instinktief geweet, van al die kere se kyk en ruik en beleef, toe die brood reg was om te rys.

Daar is ’n gemeensaamheid aan saam sit om ’n eenvoudige brood. Dit is onpretensieus en opreg. Jou huisgenote voel aan dat die liefde in die brood ingeknie is, en hulle reageer daarop. Hulle ontvang ook die vaste wete dat daar ’n plek is waar hulle veilig is en waar hulle onvoorwaardelik aanvaar word. En saam met die brood kry herinneringe hulle lê. Gereed vir herkou in alleentye of op hartseer dae.

Almal – ryk of arm, suksesvol of sukkelend, deurmekaar of uitgesorteer – hunker na vastigheid, aanvaarding, eenvoud, liefde sonder voorbehoud.

’n Warm brood, toegevou in ’n geruite kombuisdoek, kan dit alles gee.

Stilword

Here, U is die Brood van die lewe. Dankie dat ek daarin kan deel. Deel van U is. Vader, ek is dankbaar vir hartsherinneringe, vreugdes en goeie tye. Mag daar nog baie sulke tye wees. In u Naam. Amen.

Scripture

Day 1Day 3

About this Plan

Die Alfabet Van Oorvloed

’n Oorvloed lewenservarings vertel van die genade wat God vir jou het. Dié groeiplan maak jou bewus van hierdie ervarings. Dit wys vir jou dat jy in die gewone loop van ’n dag ook genade kan vind. Maak vir jou ’n koppie koffie of tee en word stil by God. Laat die gloed van sy teenwoordigheid deursyfer tot teen jou vel, tot in jou hart en in jou gedagtes.

More