YouVersion Logo
Search Icon

Die Alfabet Van OorvloedSample

Die Alfabet Van Oorvloed

DAY 6 OF 7

Musiek

Lees Romeine 15:9 en 1 Korintiërs 14:15

Oordenking

Ek luister na ’n groepie jongmense wat in ons woonkamer musiek maak. Sommer so. Impromptu.

Die jongklomp sing uit hulle hart. Nie oral op die noot nie, en die kitare is nie perfek ingestem nie. Tog word ek geraak deur die opregtheid en oorgawe waarmee hulle sing. Waar ek in my kamer lê en lees, hoor ek ’n djembe trommetjie se doef-doef klank, en die ritmiese stryk-en-tokkel van kitaarsnare. Soos die aand aanstap, verinnig die klanke. Uiteindelik is al wat oorbly die herhalende, laaste “halleluja …” En “amen”.

Kort hierna woon ek ’n repetisie by van ’n professionele koor wat aan Brahms se Requiem werk. Die oefenlokaal is donker. Die enigste lig kom van die koplampies wat oral oor die bladmusiek skyn. In die halflig is daar niks wat my aandag van die musiek aflei nie.

Ek gee my oor aan die ingewikkelde harmonieë. Die stemme word ’n lieflike, suiwer offer aan God. En ek luister met my hele wese na die boodskap wat deur die musiek gedra word.

Musiek is die taal van die hart. Dit voer mee. Dit ontroer. Dit vibreer in elke sel en vesel. Soms is ons woordeskat ontoereikend; ons kan nie werklik sê wat ’n stuk musiek aan ons doen nie. Of hoekom ’n sekere lied ons diepste wese aanraak nie.

Musiek is God se geskenk aan ons, waardeur Hy ons ’n glimp van sy heerlikheid gee. Dit maak nie saak of ons effe van die noot af sing of as lid van ’n uitgesoekte koor ons lied laat weerklink nie. Wanneer jy met oorgawe jou hande lofsingend na God uitstrek, raak die vingerpunte die soom van sy kleed.

Soms bring die aanhoor van ’n geliefde lied ons onstuimige hart tot bedaring. Dit sus ons bang gemoed soos ’n vertroude slaapliedjie waarmee ’n ma haar baba aan die slaap wieg.

Daarom moet ons ons oopstel vir die goddelike klanke van geestelike musiek, want elke lied is ten diepste ’n gebed waarin God se majesteit besing word.

Stilword

Watter lieflike voorreg is dit vir my, Skeppergod! Musiek is deel van u skepping. Soos ons sing: “Deur die hele skepping klink dit saam – hoe heerlik Heer, u grote Naam!” Met my stem wil ek u lof besing. Help my om altyd die loflied in u skepping te hoor. Amen.

Day 5Day 7

About this Plan

Die Alfabet Van Oorvloed

’n Oorvloed lewenservarings vertel van die genade wat God vir jou het. Dié groeiplan maak jou bewus van hierdie ervarings. Dit wys vir jou dat jy in die gewone loop van ’n dag ook genade kan vind. Maak vir jou ’n koppie koffie of tee en word stil by God. Laat die gloed van sy teenwoordigheid deursyfer tot teen jou vel, tot in jou hart en in jou gedagtes.

More