'n Geliefde Baba: 'n 7-dag Leesplan na 'n Miskraam Voorbeeld

Loved Baby: A 7-Day Plan After Pregnancy Loss

DAG 7 VAN 7

  

Na verlies, dwarrel ons gedagtes rond van negatiwiteit, nie waar nie? Nagmerries, traumatiese herinneringe, fluisteringe van blaam. Geliefde, as ons nie probeer om ons denke te beheer nie, sal ons denke ons binnekort beheer. Ons moet moeite doen om ons denke te oefen om na die goeie te soek ten spyte van slegte omstandighede. 

Niemand moet jou op hierdie stadium vra om die goeie te vind in die dood van jou geliefde baba nie. Ons sal dit nie verstaan totdat ons ons hemelse Vader ontmoet het nie. Tog wil ek jou aanmoedig om die goeie in areas van jou lewe te identifiseer. 

Kan jy deur die dag stil raak en drie dinge soek om as seëninge te tel? Maak dit 'n gewoonte van jou denke. Hierdie seëninge kan klein wees — soos om nie in die verkeer vasgevang te word op pad werk toe nie. Hulle is dalk onbeduidend — soos om 'n dekadente sny sjokoladekoek te geniet. Of hulle is dalk groot — soos om by die venster uit te kyk en ’n sonsondergang deurdrenk van kleure te aanskou. 

Selfs te midde van die pynlike, kan jy die glinstering van glorie kry. Onthou die goedheid wat ander mense na die dood van jou baba aan die dag gelê het. Die drukkies wat hulle jou gegee het. Die feit dat jy 'n geliefde baba in jou baarmoeder gehad het. 

Dit is nodig om te treur, maar soms moet ons herfokus en geluk identifiseer sodat ons nie toelaat dat ons siele in duisternis woon nie. Ons kan hartseer besoek, maar ons hoef dit nie 'n permanente tuiste te maak nie. Alhoewel hartseer jou lewe nou oorweldig, is daar maniere om golwe van seëninge te koester. God beveel ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tessalonisense 5:18). Hartseer gaan nie sommer gou verby nie. Die storm sal voortduur en jou weer besoek, maar jy kan voorbereid wees. Jy weet sommige oomblikke sal 'n stortreën wees en sommige oomblikke sal soos 'n orkaan aanbreek. Maar jy kan en sal kalmer waters bereik. 

Anker in die tussentyd jou siel in dankbaarheid vir wat God voorsien het. Hou styf vas, liewe vriendin. Kies om te koester te midde van die storm. Dit sal help om jou siel te kalmeer en jou denke tot bedaring bring.  

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Loved Baby: A 7-Day Plan After Pregnancy Loss

Een uit elke vier vroue verloor 'n swangerskap. Dit is 'n ingewikkelde en hartverskeurende droefheid. In hierdie oordenkings stap die skrywer, Sarah Philpott, in deernis saam met diegene wat misplaaste skaamte, afsondering en verpletterende wanhoop ervaar wat gepaardgaan met miskraam en 'n doodgebore baba. Sarah sal jou help om na Christus as ons hoop te kyk en die belofte dat ons kinders in die hemel is. Hierdie leesplan is gebaseer op Philpott se boek, "Loved Baby: 31 Devotions Helping You Grieve and Cherish Your Child After Pregnancy Loss."

More

Baie dankie aan Sarah Philpott wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek: http://allamericanmom.net