Die NalatenskapsreisVoorbeeld
Yster Slyp Yster
Ek dink almal het ‘n Paulus, ‘n Timoteus en ‘n Barnabas in hulle lewens nodig. Ons het mentors nodig wat hulle wysheid met ons kan deel. Ons het jonger mense nodig vir wie ons kan leer en lei. En ons het eweknieë nodig wat ons onvoorwaardelik liefhet en ons verantwoordbaar hou vir die keuses wat ons maak.
Ek het 12 ouens wat, soos ons dit noem, die Arendgroep, vorm. Elke Woensdagoggend om 7:00 kom ons in my kantoor bymekaar; en ons doen dit al vir die afgelope 14 jaar! Ek kan vir jou een ding sê: as een van die ouens vir my iets sê, is dit amper dieselfde as wanneer my vrou vir my iets sê. Dit is hoe belangrik hierdie ouens in my lewe en op my geestelike pad is.
Ek hoor baie stemme roep, wat dink dat hulle deur God geroep is om vir my te sê wat ek moet en nie moet doen nie, maar ek slaan nie baie op hulle ag nie. Hulle ken my nie werklik nie en hulle het ook nie ‘n geskiedenis saam met my nie. Hulle mag dalk goeie bedoelings hê, maar hulle het nie die reg verdien om sulke insette in my lewe te maak nie.
Met die manne in my Arendgroep is dit ‘n ander storie. Vir meer as ‘n dekade het hulle al in my lewe belê — en het ek in hulle lewens belê. Ons is al saam deur so baie dinge dat ons die reg verdien het om die waarheid met mekaar te praat.
Spreuke 27:17 vergelyk daardie tipe vriendskap met yster wat yster slyp. In die ou dae het mense hulle messe of swaarde skerpgemaak deur twee lemme teen mekaar te slyp. Om aanspreeklikheid te neem, doen dieselfde vir persoonlike verhoudings.
As God nog nie iemand in jou lewe laat inkom het om daardie rol te vervul nie, begin bid dat Hy dit doen. Vind jou eie Arende en slyp jou yster. Die proses mag dalk nie altyd lekker wees nie. Om die waarheid te sê, met tye kan dit baie pynlik wees. Maar dit is die tydelike ongemak werd, omdat dit so ‘n reuse verskil in ons lewens en in ons nalatenskap maak.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Dave Ramsey is Amerika se betroubare stem oor geldbestuur en besigheid. Na sy eie bankrotskap op die ouderdom van 30, het Dave begin leer hoe God wil hê dat geld bestuur moet word. Dave wy homself nou daaraan toe om ander te leer hoe om beheer oor hulle geld te neem, sodat hulle kan lewe en gee soos nog nooit tevore nie. Oor die volgende 31 dae, sal Dave jou lei deur wat die Bybel oor geld en rykdom te sê het en hoe om so te lewe dat jy ‘n nalatenskap sal agterlaat vir die geslagte wat volg.
More