Die NalatenskapsreisVoorbeeld
Tekens van Ontevredenheid
Ons leef in die beskawing wat die meeste aan bemarking blootgestel is in die geskiedenis. Bemarkers het deskundiges daarin geword om ons ongemaklik te laat voel deur ons “behoeftes” aan ons uit te lig en ons te probeer oortuig om die leemte met hulle produkte te vul.
Al hierdie bemarkingsgeraas steel ons tevredenheid, en ons wys ons ontevredenheid op vier maniere. Eerstens wil ons vinnig ryk word. Al sê die Bybel vir ons dat die een wat gou ryk word sy straf sal kry (Spreuke 28:20), wil iets diep binne-in ons altyd die lottery wen of R2 000 000 per jaar verdien sonder om daarvoor te werk. Natuurlik is dit ‘n lekker droom, maar om jou lewe daarom te beplan, is ‘n teken dat iets geestelik skort.
Ons probeer ook ryk voorkom terwyl ons eintlik bankrot is. Ons praat oor groot motors, luukse vakansies en groot huise, al kan ons dit nie bekostig nie. Dit lei tot kommer en die Bybel sê dat God nooit seëninge met kommer kombineer nie (Spreuke 10:22).
Derdens begeer ons dinge. Dit is vreemd, maar ons raak angstig oor dinge wat ons nie eens het nie. Dit is ‘n groot een vir my, want ek is mal oor goed. Ek het bankrot gespeel, ten dele omdat ek goed aanbid het. Hebreërs 13:5 daag ons uit om tevrede te wees, eerder as begerig. Materialisme laat ons meer begeer. Tevredenheid herinner ons daaraan dat alles aan God behoort en help ons om dankbaar te wees vir dit wat ons het.
Laastens is ons ontevrede wanneer jaloesie en naywer in ons lewe insluip. Ek het altyd gedink dat hierdie twee begrippe basies dieselfde is, maar hulle is nie. As ek jaloers is, wil ek hê wat jy het. Maar as ek naywerig is, dink ek nie ek kán hê wat jy het nie, so ek wil ook nie hê dat jy dit moet hê nie. Beide is ongesond en hulle span saam om jou vreugde te steel.
Neem tyd om jou eie lewe te ondersoek. Kyk of jy een (of al) hierdie vorms van ontevredenheid in jou lewe kan identifiseer. Indien wel, kies ‘n beter plan. Fokus op hoe God jou geseën het en wees dankbaar vir wat Hy vir jou gedoen het.
Jy kan tevredenheid kies.
Aangaande hierdie leesplan
Dave Ramsey is Amerika se betroubare stem oor geldbestuur en besigheid. Na sy eie bankrotskap op die ouderdom van 30, het Dave begin leer hoe God wil hê dat geld bestuur moet word. Dave wy homself nou daaraan toe om ander te leer hoe om beheer oor hulle geld te neem, sodat hulle kan lewe en gee soos nog nooit tevore nie. Oor die volgende 31 dae, sal Dave jou lei deur wat die Bybel oor geld en rykdom te sê het en hoe om so te lewe dat jy ‘n nalatenskap sal agterlaat vir die geslagte wat volg.
More