25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
In hierdie teks lees ons dat sterrekundiges van Jerusalem na Betlehem gegaan het. Hoe het hulle geweet om juis na Betlehem te gaan? Hoe het die ster "voor hulle uit [beweeg] totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was" (Matteus 2:9 NLV)?
Wel, ons weet nie. Daar was al baie pogings om die gebeurtenis te verduidelik. Wat wel duidelik is, is dat God die ster as rigtingwyser gebruik het om die sterrekundiges na die Seun van God te lei sodat hulle Hom kon aanbid.
God lei heidene om Hom te aanbid en Hy gebruik die skepping om dit te doen. Paulus wys ons dat ons meer van God in en deur die skepping kan leer. Romeine 1:19-20 (NLV): "In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekend gemaak. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulself nie verontskuldig nie."
Die skepping, die verlange in elke mens se hart na 'n verhouding met God, vergifnis van sonde, aanvaarding en sin in hierdie lewe, is eintlik rigtingwysers na Jesus toe. Om Hom werklik te ontmoet en te leer ken, moet ons nader kom en die Woord van God bestudeer. Mattheus 2:2 (NLV) vertel ons dat die sterrekundiges na Jerusalem gekom en uitgevra het oor die teken en spesifiek "Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid."
Die skepping, ons gewete en ander mense se getuienis, kan ons nader aan die Here bring. Dit kan ons interesseer. Om Jesus te sien en te ontmoet moet ons verder gaan en die Woord van God lees. Die Woord van God is die finale openbaring van wie Jesus is, wat Hy gedoen het en wat dit vir ons beteken. Hierin is die goeie nuus van die evangelie opgesluit.
In die lig van Kersfees is dit die Woord van God wat die verhaal van Jesus se geboorte vertel. Uiteindelik is dit baie meer as dit – die rede vir sy koms – om die prys te betaal vir die mensdom se sonde. Dan verduidelik die Woord ons verder wat dit beteken en hoe dit op ons lewens van toepassing is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/