25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
Die skrywer van Hebreërs verduidelik dat Jesus ons ware Hoëpriester is. Nie net dit nie, Hy is ook die offer vir ons sonde. Hy maak die offer, nie in 'n mensgemaakte tabernakel of tempel nie, maar in die werklike tempel – die hemel waar God die Vader is. Hierdie offer is nie soos in die Ou Testament toe offers van diere die sonde van 'n volk vir 'n jaar bedek het nie. Dit is Jesus, ons Hoëpriester, wat sy eie lewe as offer gee vir alle mense sodat hulle sonde nie net bedek word nie, maar weggewas word.
Die Ou Testament is 'n heenwysing na die vervulling wat in die Nuwe Testament gekom het. Dit is soos 'n skaduwee wat val – vanaf die kruis op Golgota en die leë graf in die Nuwe Testament. Ons sien die skaduwee in die Ou Testament en vind vreugde in die vervulling wat ons in die Nuwe Testament ontdek.
Verbeel jou 'n gesprek gedurende die tyd van die Nuwe Testament tussen 'n Christen en 'n Jood. Die Jood sou die Christen vra: "Ek hoor jy is godsdienstig. Vertel my waar is jou tempel?" Die Christen sou antwoord: "Jesus is ons tempel, want ons is nie gebonde aan 'n fisiese plek nie. Ons aanbid Hom en ons kan Hom op enige plek vind." Die Jood mag antwoord: "Maar as julle dan nie 'n tempel het nie, waar werk julle priester dan?" waarop die Christen sou antwoord: "Wel, Jesus is ons Hoëpriester." Hierop sal die Jood vra: "As julle dan nie 'n tempel het nie, en nie aardse priesters het nie, waar en hoe bring julle julle offers aan God?" waarop die Christen antwoord: "Jesus is nie net ons tempel en ons Hoëpriester nie, Hy is ook die offer wat vir ons gemaak is."
Jesus vervul die belofte en is die heenwysing wat ons in die Ou Testament sien. Die skaduwees in die Ou Testament kry hulle vorm in die vervulling wat ons in die Nuwe Testament sien. Jesus is daardie vervulling.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/