Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

DAG 3 VAN 13

Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (3)

Psalm 46:11 - "Laat staan, wees stil en weet dat Ek God is" (AFR53).

Jes. 30:15 - "Julle krag lê in stil wees en vertroue hê."

Stilte kan vreesaanjaend wees. Dit is in die stilte dat ek skielik kan besef dat dit net ek en God is. Soms word ek in daardie stilte gekonfronteer met my eie leegheid, niksheid, eindigheid, nietigheid, gebrokenheid, sonde, mislukkings … en met God. En in daardie stiltes kan God kies om te praat of nie te praat nie.

Dit is in die stilte waar ons een word met God. Daar is ’n plek waar ons die onsienlike God “in stil wees en vertroue” ontmoet (Jesaja 30:15). Daar in God se teenwoordigheid kan ons tot bedaring kom: "Bedaar en erken dat Ek God is" (AFR20). Hierdie Skrifgedeelte kan ook vertaal word met: "Laat staan en weet dat Ek God is" (Psalm 46:11 AFR53).

In die stiltes leer ons dat om stil by God te wees, genoeg is. Daar leer ons dat dit nie altyd vir God nodig is om met ons te praat nie, dat dit nie nodig is dat God Homself móét openbaar nie – Hy besluit daar. Ons leer ook dat dit nie vir God nodig is om in drome en visioene aan ons te verskyn, tekens en wonders te doen en ons gebede te beantwoord voordat ons in Hom sal glo nie.

Ons lees aangaande die Egiptiese woestynvaders in die derde en vierde eeu dat hulle nie ’n verwagting van God gehad het dat Hy Hom aan hulle moes openbaar nie. Hulle het hulle maar net daar alleen in die woestyn aan Hom toegewy en daarna gestreef om heilig voor Hom te leef. Hulle het hulleself nie waardig geag dat God Hom aan hulle moet openbaar nie, want per slot van rekening was hulle net eenvoudige, sondige monnike wat uit genade gered is. En ten spyte daarvan het hulle God “gesien” en die krag van God beleef. Maar hulle het dit nie van Hom geëis nie.

By geleentheid het ’n duiwel hom as ’n engel van die lig voorgedoen en na een van die monnike, Sint Makarios gekom en gesê: “God het my na jou gestuur.” Die monnik het geantwoord: “Kyk of daar nie iewers ’n fout is nie. Jy is verseker na iemand anders toe gestuur. Ek het niks gedoen dat God ’n engel na my sal stuur nie.” Daarmee het die duiwel moed opgegee en weggegaan.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv