Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

DAG 7 VAN 13

Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (7)

Sefanja 3:17 – "Die Here jou God is by jou. Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou."

Stilte genees, want stilte bring perspektief. In stilte is prestasie nie nodig nie, hoef ek myself nie te verduidelik, te vergelyk, te regverdig of voor te doen nie. Daar in die stilte kan ek voor God net wees wie ek is en soos Hy my gemaak het. In die stiltes wil Hy ons leer, Hom aan ons openbaar en onsself vir ons wys.

Soms openbaar daardie stiltes in die teenwoordigheid van God, ons sonde, ongehoorsaamheid en swakhede. Ander kere bring dit intimiteit met God.

Wie God dieper wil ken, moet leer om in die stiltes van God, op God te wag. Verlengde tye van stilte en afsondering is grootliks die antwoord vir mense wat aan uitbranding ly, onder hoë druk lewe en baie stres ervaar.

Om te kan luister, is stilte ’n voorwaarde. Stilwees is noodsaaklik vir meditatiewe besinning. God praat deur sy Woord en deur stilte. Tydens stilte kan God se sagte stem soos donderweer in ons ore klink. Die Bybel in ons hand waarborg nie God se teenwoordigheid nie. Dit is in die stiltes waar baie “God-ontmoetings” plaasvind.

Stilte bevorder kreatiwiteit. Dit is in die stilte dat nuwe beelde opduik, vars idees of nuwe planne. Stilte en rus verbreek gevestigde patrone, ou gewoontes, ou idees en konsepte. Ons kan nie sinvol met ander omgaan as ons nie stil tye het om te besin, te evalueer, te reflekteer, te beoordeel en te bevraagteken nie. Dit bring vernuwing, nuwe krag, nuwe insig, nuwe moed, nuwe oortuiging.

Stilte beteken nie dat ons alleen is nie. God is in die stilte. God is áltyd daar. Ja, ons kan kies om God in die stilte te ignoreer. In sulke gevalle is die eindresultaat eensaamheid en dikwels verwarring en ontnugtering. Stilte sonder die oortuiging dat God daar is, laat ons soos geestelike weeskinders voel. Wanneer ons egter weet dat God alomteenwoordig is en ons ons in die stilte vir God oopstel, word dit ’n tyd van volheid, ’n heilige ontmoeting met God, ’n tyd van hoop en vervulling — waar ons met God se Gees gevul word.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv