Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld
Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (8)
Psalm 73:28 - "Dit is vir my goed om naby God te wees" (It is good to draw near to God).
Min ander dinge konfronteer die diepste motiewe en dimensies van die self, ons goddeloosheid en godloosheid, soos stilte en afsondering. In sy rou en onverbloemde, naakte vorm, is die self afstootlik en ’n verskrikking. Daarom bedek ons onsself met mooi klere, filosofieë, mooi motors, etiket en baie woorde. In afsondering, waar ons stil word voor God, begin ons weer ons diepste self en ons diepste motiewe raaksien.
Stilte is dikwels nie moontlik sonder fisieke afsondering nie. Jy moet tyd maak om alleen met God te wees. Soms is dit nodig om letterlik weg te gaan na ’n plek waar daar niemand anders by jou is nie. Ons vrees dikwels afsondering omdat ons instinktief weet dat daar waar ek alleen is, ek met myself gekonfronteer gaan word en alleen met God gaan wees. Ons weet wie God is en ons weet wie en wat onsself is en daarom vermy sommige van ons afsondering. Tog is dit nodig dat ons die dissipline van afsondering sal beoefen. Daar is ’n verskil tussen eensaamheid en afsondering. Jesus wil ons telkens weglei van eensaamheid na afsondering. By die eindpunt van die pad van afsondering, in die stilte, wag die Here Jesus vir ons. Daar openbaar Hy Hom as die Here, die Meester, die Een wat soewerein ons lewe beheer, en daar openbaar Hy Hom ook as ons Verlosser, die Een wat ons liefhet, ons Ewige Vader en Wonderbare Raadsman.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv