Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

DAG 12 VAN 13

Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (12)

Hou op om te veg. Hou op om te kritiseer, te verkleineer, te beledig, wys te wees in jou eie oë, af te breek, te skinder en kwaad te praat. Moenie aanval of verdedig nie. Los jou bravade.

Kom na jou Skepper toe. Sit voor Hom. Vra jou vrae. Jou vrae sal Hom nie intimideer nie. Maar as jy glo, soos baie vandag glo, dat ons uit niks ontstaan het, is Niks jou “skepper". Niks het nie antwoorde nie. En wanneer jy sterf, gaan jy terug na jou Skepper toe: Niks. Sonder God. Sonder liefde. Niks.

Om in afsondering en stilte by God te wees, met die Woord, is soos ‘n vuuroond. Dit brand alle hindernisse weg: hout en strooi en stoppels. Daarna begin sien ons dit wat ewig en onvernietigbaar is. Wat die wêreld kan gee, kan nie vergelyk met die doel waarvoor Hy gekom het nie – om sondaars tot bekering te lei. Hierdie voorstelle van die duiwel was in direkte konflik met die wil en verheerliking van sy Vader. Dit het geen gewig gedra op die skale van die ewigheid nie.

In die stilte en afsondering van die woestyn het die duiwel na Jesus gekom en hom versoek: maak vir jou brood uit die klippe (wees relevant), spring van die tempel af (wees sensasioneel, onvergeetlik, uniek, asemrowend, ongelooflik); ek sal vir jou koninkryke gee (rykdom en mag). Maar in die stilte van die woestyn kon Jesus die kortstondigheid hiervan sien – die matelose sinneloosheid van hierdie uitnodigings en versoekings (Matteus 4:1-11).

Daar in die woestyn, in die smeltkroes van God se wil, kon Jesus die ewigheid sien en het die doel van sy koms na die aarde nie vervaag nie.

In die stilte sien ek die tydelikheid van alles op aarde. Daar kan ek sien wat weeg die swaarste. Daar is dit nie moeilik om die waardeloosheid van status in te sien nie — geld, posisie, my besondere bydrae tot die wetenskap en die literatuur van die wêreld, invloed, persoonlike skoonheid, kragtige prediking of oratoriese vaardighede.

In die stilte begin sien ek hoe minuskel en onbeduidend die dinge is wat die wêreld kan gee. Daar sien ek die donkertes van my eie begeertes, wellus, gierigheid, hoogmoed en grootheidswaan. Wanneer ek Jesus in die stilte kan sien, kom die tydelike en ewige in perspektief en word die keuses wat ek moet maak baie makliker.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv