Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

DAG 10 VAN 13

Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (10)

Lukas 5:16 - "Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid."

Psalm 139:7 tot 12 - "Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste… Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig."

Watchman Nee, bekende Chinese prediker en skrywer uit die vorige eeu, vertel hoe twee jongmanne na hom gekom en gesê het hulle wil vir die Here werk. Hulle was vol ywer. Hy het hulle toe vir drie maande na ‘n afgeleë plek gestuur. Toe hulle terugkom, was die vuur nog daar, maar daar was gebrokenheid, dieper oorgawe aan God, nederigheid, dieper afhanklikheid van God. Eers toe kon hy hulle gebruik. Daar was minder “ons kan dit doen” en meer “kom Here Jesus, kom in krag. U alleen kan dit doen.”

Die Egiptiese woestynvaders het ‘n uitdrukking gehad: “Gaan na jou sel, maak die deur toe en bly daar. Daar sal God jou alles leer wat jy moet weet.” Die woord “sel” is die woord wat gebruik is vir ‘n klein en baie eenvoudige huisie waarin hierdie monnike in die woestyn gebly het – in afsondering en stilte.

Dit is in tye van afsondering dat ons besef wat in ons harte aan die gang is. Dan eers sien ons hoe moeilik dit is om ons harte tot bedaring te bring. In die stilte van afsondering, alleen met God, sien ons die geweldige invloed van die wêreld op ons. Watter verskrikking is dit nie om vir 24 uur geen oproepe te ontvang nie, geen WhatsApp boodskappe, niemand om mee te praat nie en niemand wat jou hulp soek nie? Net jy, en “niks” en God. Dit is vir die meeste mense angswekkend. Geen musiek. Geen TV. Geen radio. Geen internet sein. Geen "time-out" nie. Net jy en “niks” en God. Wat jy ook al doen, dit is net jy en God. Jy kan nêrens heen gaan nie, want watter kant toe jy ook al draai, staan Hy voor jou, agter jou – alomteenwoordig. En verder is daar niks.

Skielik kry die woorde “al wat ek wens is om Jesus te ken” (Filippense 3:10) ander betekenis.

Ons moet tye skep vir stilte en afsondering. Ons het dit vir ons geestelike lewe net so nodig soos suurstof vir die liggaam.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv