Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

DAG 2 VAN 13

Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (2)

Openbaring 8:1 - "Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank."

Stilte is nodig om al die menslike stemme uit te doof sodat ons God se stem kan hoor. Daar is baie stemme wat heeldag met ons praat: koerante, tydskrifte, televisie, radio, advertensieborde, plakkate, e-posse, WhatsApp boodskappe en die internet. Daar is die stemme van mense se menings: gesagsfigure, predikers, boeke wat ons lees of gelees het; die stemme van ons eie ambisies en drome, begeertes en drange. Daar is die stemme uit die verlede: my pa se woorde wat in my ore dreun wanneer ek iets wil doen, ’n onderwyser se onredelikheid, die voorbeeld van ’n vriend, die druk van wat aanvaarbaar is en wat nie. Daar is die stemme van kultuur, tradisies en die gemeenskap rondom ons wat wil voorskryf hoe ons moet leef.

Wat ons net so nodig het soos ons daaglikse brood, is stilte – waar daar geen stemme en geen verwagtings is nie, nie van ander nie en nie van onsself nie. Daar is stilte nodig om die stem van Waarheid te hoor. Om Jesus weer te sien vir wie Hy is: die een wat sonder kompromie voor ons uitstap en ons vrymaak van mense se menings.

Ons het stiltes nodig waar ons in God se rus kan ingaan en waar ons vry kan wees van onsself en van ander se verwagtings van ons. Daar is stiltes nodig waar ons bestaan nie bestaan uit wat ons doen, gedoen het of wat ons moet doen of gaan doen nie.

Neem die Woord in die stilte in – lees dit, besin daaroor. Vra die Een wat met jou praat om Homself vir jou te kom wys – sy karakter en dade en sy gesindheid teenoor jou. Skoon water sal jou was. Water uit ‘n heilige Bron sal jou dors les.

Hou vir ‘n oomblik net op om ander mense se woorde te lees. Soek stilte en lees die Woord. Daar in die stilte en in die Woord sal jy meer antwoorde kry as in die hele wêreld se boeke. Daar in die stilte sal jy God begin hoor – gelouterde, heilige en ewige woorde.

In die hemel was daar stilte vir ‘n halfuur (Openbaring 8:1). Alles kom tot stilstand wanneer daar stilte in die hemel is. Die hemel beweeg wanneer God praat. Ons moet leer om nie te praat en nie te doen voordat God praat nie.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv