Die veiligste plekVoorbeeld

Die veiligste plek

DAG 7 VAN 7

BEYWER EN ONTVANG

In Lukas 12:31 het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet hulle beywer vir die koninkryk. As hulle dit doen, sal Hy vir hulle alles gee wat hulle nodig het vir elke dag.

Dan kom Hy met hierdie pragtige woorde: “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie.” Dis die enigste keer in die Nuwe Testament wat hierdie term gebruik word. Hy is die hemelse Herder en hulle is sy kudde, Hy het onderneem om vir hulle te sorg. Dan sê Hy dat dit die wil van die Vader is om die koninkryk aan hulle te gee. Eers moes hulle hulle beywer vir die koninkryk, nou sê Hy dat hulle die koninkryk sal ontvang. Is dit nie ’n teenstrydigheid nie?

Nee, want Jesus het sy koninkryk op aarde gevestig. Hy nooi mense om deel te wees daarvan en gee dit as ’n gawe aan hulle. Sodra hulle dit egter ontvang het, is die nuwe wet van die koninkryk in hulle werksaam: Hulle word baie aktief. Hulle lewe nou op ’n koninkryksmanier. Hulle word gedryf deur die krag van die Heilige Gees. Hulle werk nou hulle heil uit met vrees en bewing, en kan dit doen omdat dit God is wat in hulle werk, en omdat hulle leef volgens sy goeie besluit (Filippense 2:12, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Soos hulle die koninkryksbeginsels uitleef, word die koninkryk in hulle al hoe meer. Hoe geniet God dit nie tog om vir sy kinders te gee nie!

Kom ons beywer ons vir God se koninkryk en soos ons besig is daarmee, sal die dimensies van sy koninkryk in ons al meer word.

Hierdie oordenkings is geneem uit JESUS SE WOORDE VIR ELKE DAG deur Jan de Wet © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die veiligste plek

Die lewe is nie vir sissies nie. Dit is soms baie hard en gevaarlik. Jan de Wet wil jou daarom herinner dat Jesus ons verseker het dat elke mens, en veral sy kinders, vir God baie kosbaar is. Ons moet dus nie bang wees nie, maar op Hom vertrou. Skep dan moed, Christen! God is by ons en sy liefdevolle sorg is ons veilige hawe.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za