Die veiligste plekVoorbeeld

Die veiligste plek

DAG 6 VAN 7

BANG VIR IEMAND?

Daar is soveel mense wat in vrees leef vir wat ander mense aan hulle kan doen. Mense kan mekaar inderdaad seermaak, selfs doodmaak.

Tog sê Jesus aan sy vriende dat hulle nie bang moet wees vir mense wat hulle liggaam kan doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. ’n Mens is meer as liggaam. Ons is eintlik gees, en ons gees sal voortleef lank nadat ons ons aardse liggaam neergelê het. Die liggaam is maar net ’n tydelike huis. Paulus noem dit ’n tentwoning wat afgebreek sal word (2 Korintiërs 5:1). Petrus sê ook dat die aflegging van sy tentwoning op hande is (2 Petrus 1:14). Aangesien beide Paulus en Petrus daagliks geleef het met die wete dat hulle dalk sal moet sterf en hulle liggaam sal moet aflê omdat hulle Jesus se volgelinge is, kon vrees vir mense deel van hulle lewe gewees het. Selfs vandag is daar baie Christene wat vervolging in die gesig staar net omdat hulle Jesus Christus se dissipels is.

Dit is belangrik om te onthou dat mense net jou liggaam kan seermaak. Hulle kan jou gees nie raak nie. Hierdie gedagte het die Jood, Viktor Frankl, genoop om sy logoterapie te ontwikkel nadat hy in die Nazi-konsentrasiekampe agtergekom het dat sy liggaam agteruitgegaan het, maar dat hulle sy gees nie kon breek nie. Wat ’n oorwinningsperspektief!

Jesus sê verder (Lukas 12:5) dat ’n mens liewer ’n vrees moet hê vir God. Dit beteken nie dat ons vir Hom bang moet wees nie, maar dat ons in eerbied voor Hom moet leef. Deesdae is daar mense wat met en van God praat asof Hy sommer hulle buurman is. God is nie ons pêl nie. Hy bly die hoog verhewe Here. Buig voor Hom. Aanbid Hom. Dien Hom met eerbied. As jy in die regte verhouding tot Hom leef, lewe jy vir ewig, al word jou liggaam se veiligheid bedreig.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die veiligste plek

Die lewe is nie vir sissies nie. Dit is soms baie hard en gevaarlik. Jan de Wet wil jou daarom herinner dat Jesus ons verseker het dat elke mens, en veral sy kinders, vir God baie kosbaar is. Ons moet dus nie bang wees nie, maar op Hom vertrou. Skep dan moed, Christen! God is by ons en sy liefdevolle sorg is ons veilige hawe.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za