21 Dae GebedVoorbeeld
Wanneer ons bid, eindig ons ons gebed met die woorde "In die Naam van Jesus". Wat beteken dit? Behoort ons dit te doen?
Jesus wil hê dat ons in sy Naam moet bid. Die Woord van God is duidelik hieroor.
In die antieke tyd het die gebruik ontstaan dat iemand, soos byvoorbeeld ’n boodskapper van ‘n koning, homself sal aankondig of voorstel as iemand wat kom in die "naam van die koning". Dit het beteken dat die boodskapper in die gesag en outoriteit van die koning kom en optree as die koning se verteenwoordiger. Dit kan selfs verder uitgebrei word. Wanneer iemand in “die naam van die koning" kom, was daardie persoon nie net geag as gestuur deur die koning nie, maar hy moes soos die koning ontvang en behandel word.
Ons het die voorreg om in die Naam van Jesus te kan bid. Dit beteken dat ek en jy tot God die Vader kan nader in die Naam van Jesus. Die betekenis is duidelik: ons nader tot God die Vader in gebed as mense wat deur Jesus gestuur is en met die posisie of outoriteit van Jesus.
Om in die Naam van Jesus te bid, is nie ‘n formule wat ons aan die einde van ’n gebed aanplak nie. Dit is ’n verwoording van die realiteit en waarheid dat kinders van God in Jesus dieselfde aansien en vrymoedigheid het as Jesus self.
Onthou hierdie waarheid: Jesus was God die Vader se eniggebore Seun. Jesus word so genoem en voorgestel. Na Jesus se dood en opstanding uit die dood, word Hy nie meer so genoem nie. Van daardie punt af word Jesus die eersgebore Seun van God genoem. Die Bybel leer ons dat ons ook nou kinders van God is!
Ek en jy is kinders van God en kan tot God nader soos kinders na hulle pa toe gaan. Dit is moontlik gemaak deur Jesus!
Vir verdere studie sien Romeine 8:14-17, Galasiërs 3:26 en Efesiërs 1:5.
Aangaande hierdie leesplan
Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal jou help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag. Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/