My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld
WORD MINDER VIR SY DOEL
Indien jy ’n kruk in iemand anders se lewe word, is jy buite God se wil. As dienskneg is jou primêre verantwoordelikheid om die vriend van die bruidegom te wees (Johannes 3:29). Wanneer jy iemand sien wat op die punt staan om die eis van Jesus Christus te begryp, weet jy dat jou invloed vir die regte doel gebruik is. Wanneer jy sien dat daardie persoon in ’n moeilike en pynlike stryd gewikkel is, moenie probeer om dit te voorkom nie, maar bid dat die moeilikheid tien keer erger sal word, totdat geen mag op aarde of in die hel hom van Jesus Christus kan weghou nie. Oor en oor probeer ons om amateurvoorsieners in ander se lewens te wees. Ons is inderdaad amateurs wat in werklikheid die situasie betree en God se wil verydel en sê: “Hierdie persoon behoort nie hierdie moeilike situasie te beleef nie.” In plaas daarvan dat ons vriende van die bruidegom is, kom staan ons simpatieke gedrag in sy pad. Eendag sal daardie persoon vir ons sê: “Jy is ’n dief; jy het my van my begeerte beroof om Jesus te volg en dit is deur jou dat ek Hom uit die oog verloor het.”
Waak daarteen om jou saam met iemand oor die verkeerde ding te verheug, maar streef altyd daarna om jou oor die regte ding te verheug.
“Maar die vriend van die bruidegom staan en luister en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor” (Johannes 3:29). Hierdie woorde is met blydskap geuiter, nie met hartseer nie; uiteindelik sou hulle die bruidegom sien! Johannes het juis gesê dit is sy vreugde. Dit dui daarop dat die dienskneg opsy staan, ja, heeltemal verwyder word, en dat daar nooit weer aan hom gedink word nie.
Luister aandagtig totdat jy die bruidegom se stem in die lewe van ’n ander persoon hoor. Moet nooit daaraan dink watter verwoesting, probleme of siekte dit kan meebring nie. Verbly jou net met goddelike opgewondenheid dat sy stem gehoor word. Dit kan dikwels gebeur dat jy moet toekyk hoedat Jesus Christus ’n lewe vernietig voordat Hy dit red (Matteus 10:34).
Hierdie oordenkings is geneem uit MY ALLERBESTE VIR SY HOOGSTE deur Oswald Chambers © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oswald Chambers is bekend vir sy klassieke oordenkings. In hierdie 7-dag-leesplan wil hy jou herinner hoe belangrik die regte verhouding met God is, want daarin vind jy jou blydskap. Dan sal jy vind dat “strome van lewende water” uit jou sal vloei (Johannes 7:38) en kan jy ’n fontein wees waardeur Jesus sy “lewende water” kan laat vloei.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za