My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld
“MY BLYDSKAP … JULLE BLYDSKAP”
Wat was die blydskap wat Jesus gehad het? Dit was sy absolute oorgawe en opoffering van Homself aan sy Vader; die vreugde van doen wat die Vader Hom gestuur het om te doen; wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was die kruis verduur het (Hebreërs 12:2). Om u wil te doen, my God, is my een begeerte (Psalm 40:9). Jesus het gebid dat ons blydskap voortdurend selfvervullend sal wees totdat dit dieselfde as sý blydskap is. Het jy Jesus Christus al toegelaat om sy blydskap aan jou bekend te stel?
Om ’n vol en oorvloedige lewe te leef berus nie op liggaamlike gesondheid, gunstige omstandighede of selfs die wete dat God se werk suksesvol is nie. Dit berus op die volmaakte begrip van God en dieselfde gemeenskap en eenheid met Hom as wat Jesus self geniet het. Die eerste ding wat hierdie blydskap egter sal verhinder, is die subtiele irritasie wat kom as gevolg van té veel aandag aan ons omstandighede. Jesus het gesê: “Die sorge van die lewe verstik die woord, en dit bly sonder vrug” (Markus 4:19). Voordat ons nog mooi besef wat gebeur, is ons vasgevang in ons sorge. Alles wat Jesus vir ons gedoen het, is slegs die drumpel. Hy wil hê ons moet by daardie plek kom waar ons sy getuies is en verkondig wie Hy is.
Sorg dat jy in die regte verhouding met God staan en vind jou blydskap daarin, dan sal jy vind dat “strome van lewende water” uit jou sal vloei (Johannes 7:38). Wees ’n fontein waardeur Jesus sy “lewende water” kan laat vloei. Hou op om skynheilig en trots te wees, net maar bewus van jouself, en begin om jou "lewe wat saam met Christus verborge is in God" te leef (Kolossense 3:3). ’n Persoon wat in die regte verhouding met God staan, leef ’n lewe wat so natuurlik soos asemhaling is, waar hy ook al gaan. Die lewe wat vir jou die meeste seën bring het, is die lewe van daardie mense wat onbewus daarvan is dat hulle ’n seën is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oswald Chambers is bekend vir sy klassieke oordenkings. In hierdie 7-dag-leesplan wil hy jou herinner hoe belangrik die regte verhouding met God is, want daarin vind jy jou blydskap. Dan sal jy vind dat “strome van lewende water” uit jou sal vloei (Johannes 7:38) en kan jy ’n fontein wees waardeur Jesus sy “lewende water” kan laat vloei.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za