My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld
DIE VREUGDE VAN WANHOOP
Dalk ken jy Jesus intiem, net soos Johannes. Maar as Hy onverwags aan jou sou verskyn as ’n onbekende karakter, is al wat jy kan doen om soos ’n dooie voor sy voete neer te val. Daar is tye wanneer God Homself op geen ander wyse kan openbaar as in sy majesteit nie, en dit is die ontsagwekkendheid van hierdie visie wat jou die vreugde van wanhoop laat ervaar. Jy ervaar die vreugde te midde van hopeloosheid, wetend dat as jy ooit weer opgerig kan word, dit deur God se hand sal moet geskied.
"Hy het toe met sy regterhand aan my gevat" (Openbaring 1:17). Te midde van die ontsagwekkende situasie ervaar jy ’n aanraking en jy weet net dat dit die regterhand van Jesus Christus is. Jy weet dit is nie die hand van terughouding, van dissipline of tugtiging nie, maar die regterhand van die ewige Vader. Wanneer sy hand jou ook al aanraak, ervaar jy onuitspreeklike vrede en vertroosting en die gevoel van “sy arms ... onder jou” (Deuteronomium 33:27). Wanneer jy eers een keer daardie aanraking ervaar het, kan niks jou weer in vrees laat wegsink nie. Te midde van al sy hemelse heerlikheid kom praat die Here Jesus met ’n onbeduidende dissipel en sê: “Moenie bang wees nie” (Openbaring 1:17). Sy teerheid is onuitspreeklik heerlik. Ken jy Hom in hierdie gedaante?
Kyk ’n bietjie na dié dinge wat wanhoop in ons hart bring. Daar is ’n wanhoop wat geen vreugde inhou nie, wat hoegenaamd geen perke het nie, met geen hoop op enigiets beter nie. Die vreugde van wanhoop word egter in my bewerk. "Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie" (Romeine 7:18). (Dit wil sê dat daar in my vlees niks goeds is nie.) Ek verheug my in die wete dat daar iets in my is wat my op my aangesig voor God laat val wanneer Hy Hom aan my openbaar, en ook in die wete dat as ek ooit weer sou kon opstaan, dit slegs deur die hand van God sal wees. God kan niks vir my doen nie, totdat ek die perke erken van wat menslik moontlik is en Hom toelaat om die onmoontlike te doen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oswald Chambers is bekend vir sy klassieke oordenkings. In hierdie 7-dag-leesplan wil hy jou herinner hoe belangrik die regte verhouding met God is, want daarin vind jy jou blydskap. Dan sal jy vind dat “strome van lewende water” uit jou sal vloei (Johannes 7:38) en kan jy ’n fontein wees waardeur Jesus sy “lewende water” kan laat vloei.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za