My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld
VRIENDSKAP MET GOD
Die genot van vriendskap met God
Genesis 18 bring die vreugde van ware vriendskap met God na vore, in teenstelling met net die sporadiese ervaring van sy teenwoordigheid tydens gebed. Hierdie vriendskap beteken om so intiem met God in aanraking te wees dat jy nooit eens nodig het om Hom te vra om sy wil aan jou te openbaar nie. Dit is die bewys van ’n vlak van intimiteit wat bevestig dat jy die finale fase van dissipline in jou geloofslewe nader. Wanneer jy so ’n regverdige verhouding met God het, leef jy ’n lewe van vryheid, vrymoedigheid en vreugde; jy is God se wil. Al jou “gesonde verstand”-besluite is in werklikheid sy wil vir jou. Jy is volkome vry om besluite te neem in die lig van ’n perfekte en genotvolle vriendskap met God, wetend dat indien jy die verkeerde besluit neem, Hy op ’n liefdevolle wyse die gevoel van huiwering in jou hart sal bewerk. Wanneer Hy dit doen, moet jy onmiddellik wag.
Die probleem van vriendskap met God
Abraham het juis op daardie tydstip in sy lewe ophou bid omdat daar nog ’n vlak van intimiteit in sy vriendskap met God ontbreek het; ’n vlak wat hom in staat sou stel om met vrymoedigheid met God in gebed te verkeer totdat sy begeertes vervul is. Telkens wanneer ons ophou bid voordat ons ware hartsbegeerte in gebed vervul is en ons sê: “Wel, ek weet nie, miskien is dit nie God se wil nie,” beteken dit ons het nog ’n verdere vlak om te gaan. Dit wys dat ons nie so intiem met God verbind is as wat Jesus was nie of soos wat Jesus wil hê ons moet wees nie. Dink aan die saak waaroor jy die laaste keer gebid het. Was jy toegewy aan jou begeerte of aan God? Was jy vasberade om een of ander gawe van die Gees vir jouself te verkry of om by God uit te kom? “Want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (Matteus 6:8). Die rede waarom jy moet vra, is sodat jy God beter kan leer ken. "Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer" (Psalm 37:4). Ons moet aanhou bid sodat ons ’n perfekte begrip van God self kan kry.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oswald Chambers is bekend vir sy klassieke oordenkings. In hierdie 7-dag-leesplan wil hy jou herinner hoe belangrik die regte verhouding met God is, want daarin vind jy jou blydskap. Dan sal jy vind dat “strome van lewende water” uit jou sal vloei (Johannes 7:38) en kan jy ’n fontein wees waardeur Jesus sy “lewende water” kan laat vloei.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za