My Allerbeste vir Sy HoogsteVoorbeeld

My Allerbeste vir Sy Hoogste

DAG 5 VAN 7

OFFERANDE EN VRIENDSKAP

Ons sal nooit die vreugde van selfopoffering ken nie, totdat ons elke detail van ons lewe oorgegee het. Tog is selfopoffering vir ons die heel moeilikste ding om te doen. Ons doen dit altyd voorwaardelik deur te sê: “Ek sal oorgee as … !” Of ons benader dit deur te sê: “Ek veronderstel ek moet my lewe aan God toewy.” Maar so sal ons nooit die vreugde van selfopoffering ervaar nie.

Sodra ons onsself egter heeltemal oorgee en onsself volkome aan Jesus toewy, gee die Heilige Gees ons ’n voorsmakie van sy vreugde. Die uiteindelike doel van selfopoffering is om ons lewe af te lê vir 'n vriend (Johannes 15:13-14). Wanneer die Heilige Gees in ons lewe kom, word dit ons hoogste begeerte om ons lewe vir Jesus af te lê. Opoffering is by uitstek die Heilige Gees se manier waarop Hy aan die liefde gestalte gee.

Ons Here Jesus is ons voorbeeld van ’n lewe van selfopoffering en in Psalm 40:9 het Hy dit perfek verwoord: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte.” Hoewel Hy geweldige selfopoffering moes doen, was dit altyd met oorvloedige blydskap. Het jy jouself al ooit in totale onderwerping aan Jesus toegewy? As ek nie na Hom kyk vir rigting en leiding nie, hou my opoffering geen voordeel in nie. Maar wanneer ek ’n opoffering doen met my oë op Hom gefokus, word sy vormende invloed stadig maar seker sigbaar in my lewe (Hebreërs 12:1-2).

Pas op dat jou natuurlike begeertes jou nie verhinder in jou wandel in liefde voor God nie. Die een opregte begeerte van ’n gelowige, is toewyding aan die Here Jesus. Liefde vir God is nie iets sentimenteel of emosioneel nie. Om lief te hê soos God liefhet, is vir ’n gelowige die mees praktiese saak denkbaar.

“Ek noem julle vriende” (Johannes 15:15). Ons vriendskap met Jesus is gebaseer op die nuwe lewe wat Hy in ons geskep het, ’n liefde wat geen ooreenkoms met ons ou lewe vertoon nie, maar slegs met die lewe van God. Dit is ’n lewe wat geheel en al nederig, rein en aan God toegewy is.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

My Allerbeste vir Sy Hoogste

Oswald Chambers is bekend vir sy klassieke oordenkings. In hierdie 7-dag-leesplan wil hy jou herinner hoe belangrik die regte verhouding met God is, want daarin vind jy jou blydskap. Dan sal jy vind dat “strome van lewende water” uit jou sal vloei (Johannes 7:38) en kan jy ’n fontein wees waardeur Jesus sy “lewende water” kan laat vloei.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za