TYDBOMVoorbeeld

TYDBOM

DAG 5 VAN 5

Dag 5: Skyn Voorkoms

Johannes 10:10-11: "'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”

Ek wonder baie keer “wat word weggesteek agter die gesigte wat ek daagliks sien?” As ek sou vra "wie is jy werklik?" Wat sou die antwoord wees? Weet jy? Hoe word jou identiteit gedefinieer? Wat staar jou in die gesig?

‘n Tydjie gelede het ek hierdie stukkie wysheid gelees wat deur Sir Winston Churchill geskryf is: "Die waarheid is so waardevol dat dit dikwels beskerm word deur 'n lyfwag van leuens.”

Waarheid en leuen gluur op ‘n daaglikse basis na mekaar in ons onmiddellike ruimtes. Dikwels verstik ons van die lyfwag se leuens, omdat die waarheid so goed beskerm word.

Soms kan ons sélf die waarheid sagter draai ... wat as jy ontbloot word as "iemand anders" as wat mense gedink het jy is? Dalk nie so sterk of slim nie, dalk ly jy in stilte as gevolg van 'n probleem of persepsies van mense. Kwesbaarheid. Leuens. Hulle fluister geslepe, op so 'n manier dat dit na die waarheid kan klink! Hulle speel die skuldkaart en spin 'n web van onsekerhede. Skyn-individue word gevorm wat stil skree om gehoor of gesien te word, maar niemand sien nie, omdat die waarheid beskerm word.

Waarheid is gelykstaande aan lig. Leuen is gelykstaande aan bedrog. Laasgenoemde kom nie van die Hand wat ons geskep het nie. Waarheid mag beskerm word vanweë die krag en die toekoms wat dit vir jou en my beloof. Waarheid wen en ontbloot áltyd en laat vryheid los. Leuens verwar ons gedagtes, beseer ons persepsies en veroorsaak pyn.

Hou op om skyn te handhaaf – vir wie en vir wat? Begin om die waarheid los te laat, breek deur die web van grys. Beweeg vorentoe. Laat agter wat agtergelaat moet word. Trap daardie lonte dood!

Vergeet van voorkoms. Deursigtigheid is werklik. Werklikheid het waarde.

Gebed: Vader, soveel leuens word daagliks op my afgedruk dat ek baie daarvan begin glo het. Ek vra dat U my sal skoon was en sal deurdrenk met u waarheid oor my.

Maak ‘n lys van al die dinge wat jy weet leuens in jou lewe is. Die Heilige Gees sal jou lei. Skeur die lys op en gooi dit in die asblik – daar waar dit hoort! Jý is duur gekoop en kind van God, dít is waarheid!

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

TYDBOM

Ons staar elke dag verskeie uitdagings in die gesig. Polities, ekonomies, met siektes, werk, verliese, angs en druk máár ook intern … daar waar gees en siel kommunikeer, vrae opduik en antwoorde wegkruip. Ons is lewende tydbomme met kort lonte wat soms heel anders vertoon.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com