TYDBOMVoorbeeld

TYDBOM

DAG 4 VAN 5

Dag 4: Skoonkop

Hebreërs 12:11-13 “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word."

Het jy al die volgende beleef: ongebalanseerdheid, onsekerheid, die rook van werklikhede wat probeer om jou natuurlike optimisme en vreugde te versmoor? Ek is meestal positief en soek geleenthede om ten goede aan ons samelewing by te dra. Om verhale van waarde op te grawe en lewenservaringe op een of ander manier te deel, want dít laat my hart vinniger klop. Dalk is jy ook so aanmekaar geweef.

Vandag is ons so jonk en lewendig as wat ons ooit sal wees!

Onlangs het ek heelwat lewenskrag verloor. Gesondheidsprobleme, energie-uitputting, verskeie omstandighede het dik rook in my gesig kom blaas. Jy kan jou seker hiermee vereenselwig. Ons wil help en 'n bietjie pyn verlig, maar ons kan nie altyd nie. ‘n Mens luister, bid en huil saam met ander. Soms mag ons oor ons eie omstandighede huil en die emosie ervaar vir wat dit is.

Binne die vaagheid van vrae kan ons doelbewus 'n paaiement van vasberadenheid betaal: Dit sal nie so aanhou nie, haal asem. Ons is nie in beheer van die lewe nie.

Wat glo ek? Hoe glo ek ... regtig? Ons moet vertrou om wysheid in die oomblik. Strek jou geloof uit na elke môre waar genade reeds leef! Moenie moed verloor of toelaat dat donkergrys werklikhede jou visie vertroebel nie. Gooi water op die lont wat wil-wil vlam vat.

Ek en jy is steeds hier!

Kom ons vertrou sáám dat die Heilige Gees ons geestelike vlammetjies sal aanblaas en dat ons oomblikke van stilte, heilig sal word.

Raak stil. Haal diep asem. Bid. Herhaal dit.

Gebed: Here, ek wil by U kom sit. Vul my gedagtes met u gedagtes. Ek wil goeie vrugte dra en daarvan getuig omdat dit U is wat my versterk.

Behalwe vir die Woord en gebed kan jou kop helder word deur iets vir iemand anders te doen wat dalk ook soos jy voel. Kyk om jou … jou naaste is oral naby jou.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

TYDBOM

Ons staar elke dag verskeie uitdagings in die gesig. Polities, ekonomies, met siektes, werk, verliese, angs en druk máár ook intern … daar waar gees en siel kommunikeer, vrae opduik en antwoorde wegkruip. Ons is lewende tydbomme met kort lonte wat soms heel anders vertoon.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com