TYDBOMVoorbeeld

TYDBOM

DAG 3 VAN 5

Dag 3: ‘Selfie’-bewustheid

Spreuke 4:23 “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

“Hou van” (like) my, deel my, volg my, kyk na my, klik my raak ... Dis verskeie aksies deur sosiale media wat skelm in ons persoonlike ruimtes ingesluip het. Die neiging om in 'n voortdurende wedloop van blootstelling en ingeligtheid te leef. Vir so baie mense kan dit aanvaarding beteken.

In my daaglikse omgewing is ek deel van virtuele kringe en 'n aanlyn-kultuur. Die belangrikheid om gekoppel en aanlyn te wees, blaas swaar in my nek. Soms is ek verstom deur die wonder van tegnologie, die krag van platforms wat wye geleenthede skep om gehoor en gesien te word. Dikwels ervaar ek egter 'n gebroke konneksie van al die verbindinge – beslis ‘n paradoks.

Watter konneksie leef in jou hart? ĺs daar konneksie? Hoe beïnvloed dit jou lewe?

Onlangs het iemand gesê dat die menslike tendens is om die "hier en nou"-oomblikke te mis. Inteendeel, dit is al lankal ‘n siekte wat ons eie bewustheid in ‘n kanker herskep het. Weereens die bewustheid van "nou". Ons plak en plaas en neem selfies amper oral. Elke ruimte wat ons betree moet met ander gedeel word sodat húlle van "ons" bewus sal wees.

Die ervaring van ons teenwoordigheid hang aan 'n draadjie. Multitaakverrrigting (“multitasking”) blyk deesdae 'n deug of uitsonderlike waarde te wees. Dalk is die probleem net eenvoudig dit: “ek en myself" is waaroor die lewe gaan, maar tog diep binne-in jou leef ‘n tydbom van onsekerheid wat gevoed word deur leuens wat jy aanvaar — of selfs skep?

In die AFR20-weergawe, lees die teksvers so: "Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe." Ek glo dat dit nie gaan oor hoe ons ​​binne al ons verbindinge staan nie; dit gaan oor hoe ons kies om te beweeg.

Dit gaan oor balans. Vanlyn oomblikke. Bewustelike verbintenisse. Jy kan nie teenwoordigheid multitaak nie.

Gebed: Hemelse Vader, ek erken dat ek ingesluk word deur soveel stemme en druk wat my omring. Ek wil my hart en gees vul met u gedagtes en die wete dat U my lewenspad beplan. Ek wil ook ander mense rondom my raaksien soos U hulle sien.

Skaf ‘n klein notaboekie aan en skryf elke dag of eenmaal per week doelbewus daarin: “Behalwe van myself, van wie en waarvan was ek hierdie week bewus?”

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

TYDBOM

Ons staar elke dag verskeie uitdagings in die gesig. Polities, ekonomies, met siektes, werk, verliese, angs en druk máár ook intern … daar waar gees en siel kommunikeer, vrae opduik en antwoorde wegkruip. Ons is lewende tydbomme met kort lonte wat soms heel anders vertoon.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com