TYDBOMVoorbeeld

TYDBOM

DAG 1 VAN 5

Dag 1: Wanneer die lewe gebeur

Jakobus 1:2-4: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Tydens 'n baie spesiale geleentheid het ek weereens ervaar; ons dae is gevul met ‘n doel, verál teenoor ander mense. Om te voel, na te dink en selfs om te genees.

Wanneer "die lewe gebeur", kan dit voorkom asof ons toegedeelde tyd op aarde reeds vooraf in kompartemente van verskeie situasies verpak is. Dit verg ons voortdurende aandag. Ons ervaar onvoorsiene omstandighede, afstand-skeiding, tyd wat vinniger as ooit vlieg, geliefdes wat in stilte ly, vlakke van spanning en soveel uiterstes waarmee ek en jy moet worstel.

Dinge wat voortdurend lyk asof dit net gebeur … vanuit nêrens.

Soos "die lewe gebeur", blyk dit asof 'n suigkrag op een of ander manier dít wat aan jou behoort, net laat verdwyn. Dinge wat bedoel was om met vreugde aangegryp te word. Dalk is daar foute gemaak, almal maak foute. Dalk leef jy vreugde mis, soms oorweeg ons onvergewensgesindheid, dikwels draai ons geheue in trurat. Daar kan vele redes wees.

Wat is die rede vir hierdie ongelukkige toestand van sake? Wie steek ons uitgerafelde lont aan? Ons gedagtes kan in baie vrae verstrengel raak wanneer ons in die spieël kyk of selfs aandring op 'n antwoord, maar vrae kan soms in stilte agter ons rûe vir ons lag.

Máár dan is daar oomblikke wat uit die bloute hulself binne-in jou ruimte indwing. Ek noem dit genade. Miskien is dit goed om weer in die spieël te kyk en 'n bewuste keuse te maak; aanvaar waar jy jouself bevind.

Genade … voor my eie lewensspieël staan ek ook, peinsend oor baie dinge. Dít wat lankal verby is en ook onlangse gebeure. Gisteraand het werklik geëindig. Môre sal sekerlik kom, maar vandag is al wat ons het!

Binne hierdie 24 uur kan ons kies om ons gedagtes en keuses in Hoop te doop.

Gebed: Here, ek kan slegs volhard met U aan my sy en u genade wat my toevou in elke tree wat ek gee. Saam met U sal my beproewings oorwinnings word!

Fokus op vandag – jy kan! Met die verloop van jou dag, moet jy uitkyk vir genade-sade op jou pad, daar is beslis 'n hele paar!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

TYDBOM

Ons staar elke dag verskeie uitdagings in die gesig. Polities, ekonomies, met siektes, werk, verliese, angs en druk máár ook intern … daar waar gees en siel kommunikeer, vrae opduik en antwoorde wegkruip. Ons is lewende tydbomme met kort lonte wat soms heel anders vertoon.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com