TYDBOMVoorbeeld

TYDBOM

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Verdofde Pieksels

Matteus 11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Jy het sekerlik al die woord pieksel gehoor (“pixel” in Engels). Dit is die beskrywing vir klein elemente waaruit die skerms van jou rekenaar, selfoon of televisie se beeld bestaan. Wanneer die beeld te veel vergroot word of met 'n lae resolusie vertoon, vervaag die beeld elemente (pieksels) en word dit onduidelik.

Ons leef diep in 'n era van 'n inligting-pandemonium. Ons beleef oorlading. Breine wat geïnfekteer word deur paniek, die “wat as” en kommer. Ek is nie naïef nie. Ek kan soms (wan)funksioneer op 'n lae resolusie van begrip om die wêreld te probeer verstaan. Daar is legio stemme en menings.

Ons word voortdurend aanlyn gevoer met skakels, advertensies, menings wat vrees en vrae voed, wat nog valse inligting bring! Vuurwarm veroordelings ontplof in baie mense se gesigte. Ons begrip van al die wasighede op skerms en in ons denke, verval in ‘n spiraal van té veel. Die menslike toestand word gekondisioneer, vermink en verpak in ‘n wolk van wasigheid. Pieksels, wat geensins ‘n mooi prentjie vorm nie.

Word ons aangepas vir spesiale effekte? Dit voel of ons gedagtes gebreek word om die lewensgrootte beelde daarin te probeer inpas. Die maatstaf om binne die lyne van ons lewens-skildery in te kleur, pas nie altyd op die doek nie. Ons pieksels oorvleuel mekaar.

Ons spesiale effekte se filters word aangepas. Ons gedagtes en fokus is klein pieksels van die groter prentjie wat die werklikheid genoem word. Natuurlik kan ons daartoe bydra en ons deel doen deur ons filters skoon te blaas … vra die Heilige Gees om dit vir jou te doen.

Nou is dit egter ek en jy wat daagliks ons gedagtes moet toedraai rondom die begrip van "nou" en bewustelik leef. Ons mag nooit ophou om goeie nuus te wees nie, ons moet aanhou inkleur.

Soms, heelwat later, verstaan ons die lewe daar agter – daar waar jy met jou kunswerk begin het.

Gebed: Vader, U het my gemaak en U nooi my uit om rus by U te vind. Ek wil nie wasig en oorweldig voel nie. Ek wil U langs my voel.

Wanneer jy "wasig” voel, onthou Jesus se uitnodiging. Moenie staar na die onduidelike beeld van jou lewe nie, staar na Bo! Daar vind jy helder lig: God se lig en sy juk wat sag is.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

TYDBOM

Ons staar elke dag verskeie uitdagings in die gesig. Polities, ekonomies, met siektes, werk, verliese, angs en druk máár ook intern … daar waar gees en siel kommunikeer, vrae opduik en antwoorde wegkruip. Ons is lewende tydbomme met kort lonte wat soms heel anders vertoon.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com