'n Goddelike LeweVoorbeeld
AS GOD SAAMGAAN
"Toe het die Here gevra: 'Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?'” Eksodus 33:14.
In hierdie vers wil God uitvind of Moses met Hom dit opreg bedoel. As Moses werklik vir God wil saamneem op die woestyn reis waarborg God vir hom sy vrede, maar Hy verwag van Moses en ook van die volk volkome gehoorsaamheid aan Hom. Hulle moet hulself ten volle toewy aan Hom.
Wanneer jy Christus met jou saamnooi op die pad wat jy elke dag stap, beteken dit dat Hy altyd vir jou daar sal wees – nie net in noodgevalle nie. Hy wil nie net dat ek en jy Hom gebruik op die tye wanneer ons nie sonder Hom kan klaarkom nie. Hy wil elke dag vir ons ‘n Vader, ‘n Koning en ‘n Herder wees.
As Vader beloof Hy om ons te beskerm, te vertroos en te versorg. Ons moet egter in gedagte hou dat as Vader, Hy ook sy kinders tug wanneer ons die pad so bietjie byster raak. As Koning moet ons kans sien dat Hy die heerskappy van ons lewens oorneem, en Hom dan ook loof en aanbidding daarvoor gee. Met Christus as ons Herder, stap Hy die pad vooruit en Hy verwag dat ons onvoorwaardelik in sy voetspore sal volg.
As ons Christus elke dag by ons wil hê, sal ons ons verhouding met Hom in orde moet kry. Deur dit te doen, kan ons die belofte in hierdie teksvers vir ons self toe-eien: Dan SAL die Here elke dag vir ons sy vrede gee.
Gebed
“Here Jesus, ek wil die pad van my lewe nie sonder U aandurf nie. Sal U asseblief self met my saamgaan en vir my vrede gee? Dankie Jesus! In die Naam van Jesus. Amen!”
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Goddelike lewe voel soms onbereikbaar ver, maar deur die Woord daagliks te bestudeer word dit makliker. Hierdie 10-Dag leesplan is 'n hulpmiddel vir jou pad. 'n Pad wat nie net eenmaal geloop word nie maar daagliks gewandel moet word om jouself te bewapen vir die aanslae van die lewe, die kinkels en draaie en die onverwagte mooi oomblikke van genade.
More
Ons wil graag Worthy Ministry Brakpan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://worthyministry.wixsite.com/brakpan