'n Goddelike LeweVoorbeeld

'n Goddelike Lewe

DAG 2 VAN 10

IS JY LEWENSMOEG? ‘N ASEMSKEP-OOMBLIK MET GOD

“Wat is die mens dat U soveel van hom maak, dat U hom so op die hart dra, dat U hom van dag tot dag toets, hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?” Job 7:17-19.

Met Job het dit so swaar gegaan toe hy hierdie hoofstuk geskryf het. ‘n Mens kan duidelik hoor dat hy lewensmoeg was. Hy vra vir God waarom Hy hom so van dag tot dag toets, hoekom hy van oomblik tot oomblik deur Hom beproef word. Die arme Job het aan die einde van sy uithouvermoë gekom. Nou soebat hy God vir ‘n asemskep-oomblik, ‘n oomblik waarin God van hom sal wegkyk, sodat hy net weer tot verhaal kan kom.

Klink dit vir jou bekend? Êrens is ons almal opsoek na asemskep oomblikke. Ons lewe is ‘n dolle gejaag van die een punt na die ander sodat ons saans doodmoeg is en soms, soos Job, nie kans sien om verder aan te gaan nie. Daarom smag ons na oomblikke van stilte waarin ons net weer tot rus kan kom en onsself uitgesorteer kan kry.

God wil vir elkeen van sy kinders hierdie asemskep-oomblikke gee – oomblikke wanneer ons stil kan word by Hom, oomblikke waarin ons sy Woord kan bestudeer en nuwe krag kan kry vir elke uitdaging wat voor ons lê. Oomblikke gevul met die heerlike wete van sy teenwoordigheid.

Maak elke dag tyd vir God. By Hom kan jy die krag kry wat jy nodig het.

Gebed

“Here, sal U nie asseblief vir my op hierdie dag wat voorlê ‘n paar asemskep-oomblikke digby U gee nie, sodat ek weer nuwe krag kan kry vir die uitdagings wat op my wag? Dankie Jesus. In die Naam van Jesus. Amen!”

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

'n Goddelike Lewe

'n Goddelike lewe voel soms onbereikbaar ver, maar deur die Woord daagliks te bestudeer word dit makliker. Hierdie 10-Dag leesplan is 'n hulpmiddel vir jou pad. 'n Pad wat nie net eenmaal geloop word nie maar daagliks gewandel moet word om jouself te bewapen vir die aanslae van die lewe, die kinkels en draaie en die onverwagte mooi oomblikke van genade.

More

Ons wil graag Worthy Ministry Brakpan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://worthyministry.wixsite.com/brakpan