'n Goddelike LeweVoorbeeld

'n Goddelike Lewe

DAG 5 VAN 10

DIE BROOD WAT LEWE GEE

"Maar Jesus sê vir hulle: 'Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie'” Johannes 6:35.

Ek gee weekliks vir mense kos. Soms kan ek die honger in iemand sien in die manier hoe hulle eet. Soms word pap of ‘n stukkie brood met vuil hande in sous gedruk voordat dit geeët word … Ek weet egter dat dit nie die Brood is waarmee ek hulle regtig moet voed nie.

In die Johannes evangelie sê Jesus dat Hy die ware brood uit die hemel is wat vir ons lewe gee. Die mense wat in Hom glo, sal nooit weer honger of dors word nie. Die manna (of brood) uit die hemel was ‘n heenwysing na Jesus, die ware Brood uit die hemel, wat sou sterf sodat ons van ‘n ewige dood gered kan word. Elkeen wat hierdie brood eet en met Hom een word, sal nooit weer sterf nie, maar lewe vir altyd. Dit is die grootste wonder ooit: God wat mens word sterf sodat sondige mensekinders kan lewe. Jy hoef dus nooit weer geestelike hongersnood te ervaar nie!

Elke keer wat jy by ‘n nagmaalstafel aansit, kan jy hierdie wonder opnuut ervaar. Jy bevestig en herdenk God se liefde vir jou wanneer jy van die brood eet en die wyn drink. Wanneer dit op jou tong is PROE jy God se liefde vir jou.

Kyk na God en vergeet van die wêreld wat agter jou lê. Verlustig jou in die Brood wat lewe gee, nie net aan die nagmaalstafel nie, maar elke dag van jou lewe! Loop dan die pad vorentoe met die seker wete dat God jou verlos het om jou nooit weer te los nie.

Gebed

“Here Jesus, dankie dat u liggaam vir my aan die kruis gebreek is en dat u bloed gevloei het, sodat ek vir altyd kan lewe. In die Naam van Jesus. Amen!”

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

'n Goddelike Lewe

'n Goddelike lewe voel soms onbereikbaar ver, maar deur die Woord daagliks te bestudeer word dit makliker. Hierdie 10-Dag leesplan is 'n hulpmiddel vir jou pad. 'n Pad wat nie net eenmaal geloop word nie maar daagliks gewandel moet word om jouself te bewapen vir die aanslae van die lewe, die kinkels en draaie en die onverwagte mooi oomblikke van genade.

More

Ons wil graag Worthy Ministry Brakpan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://worthyministry.wixsite.com/brakpan