'n Goddelike LeweVoorbeeld
EK IS GOD SE GENADE NIE WERD NIE
“Hy is dit werd dat U dit vir hom doen … Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ‘n woord, en my slaaf is gesond” Lukas 7:4,6-7.
Iemand het eenkeer gesê dat baie groot en vername mense eintlik nederig is. Ek dink daaraan toe ek die verhaal van vanoggend lees. Hierdie belangrike offisier het Jesus besoek en Hom gevra om sy slaaf gesond te maak. Hy was ‘n Romeinse offisier, en ‘n heiden, maar tog het die Jode ‘n hoë dunk van hom gehad. Hierdie man het selfs met sy eie geld vir hulle ‘n sinagoge gebou en hulle vertel dit dan ook vir Jesus. Jesus gaan toe saam met hulle na die offisier se huis.
Die offisier is nie net nederig nie, maar beskik ook oor ‘n onbekende en besonderse geloof. Wanneer Jesus sy huis nader, stuur hy vir Hom ‘n boodskap: “Here, … ek is dit nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ‘n woord, en my slaaf is gesond.”
Jesus was verwonderend toe Hy dit hoor, en sê vir die mense wat saam met hom is dat Hy nog nooit so ‘n groot geloof in Israel teëgekom het nie. Die slaaf het onmiddelik gesond geword.
Geeneen van ons is dit werd dat God se genade ons toekom nie. Ons verdien elkeen die doodstraf vanweë ons sondigheid. Ek en jy is dit nie eens werd dat God ons lief het nie, en tog bied Hy sy liefde en genade vir ons aan.
Hierdie genade sluit steeds mense in wat Hom nog nie ken en lief het nie. Wil jy nie seker maak dat die blye boodskap van Jesus se liefde wel by hierdie mense uitkom nie?
Gebed
“Here Jesus, baie baie dankie dat U vir my gesterf het terwyl ek nog so diep in my sonde was. Help my asseblief om hierdie boodskap van u genade deur te gee aan die mense wat U nog nie ken nie. In die Naam van Jesus. Amen!”
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Goddelike lewe voel soms onbereikbaar ver, maar deur die Woord daagliks te bestudeer word dit makliker. Hierdie 10-Dag leesplan is 'n hulpmiddel vir jou pad. 'n Pad wat nie net eenmaal geloop word nie maar daagliks gewandel moet word om jouself te bewapen vir die aanslae van die lewe, die kinkels en draaie en die onverwagte mooi oomblikke van genade.
More
Ons wil graag Worthy Ministry Brakpan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://worthyministry.wixsite.com/brakpan