21 Dae Vas en GebedVoorbeeld
Daar is verskeie praktiese oorwegings wat jy in ag moet neem wanneer jy vir ’n periode lank wil vas en bid. Besluit watter soort vas jy gaan volg en vir hoe lank.
Hier is die mees algemene tipes vas weer soos op Dag 1 genoem:
- Volledige vas: drink vloeistowwe maar weerhou jou van enige kos
- Selektiewe vas (Daniëlvas): weerhou jou van sekere kossoorte
- Gedeeltelike vas: weerhou jou van ’n hele maaltyd – eet bv. ontbyt en middagete maar nie aandete nie
- Sielsvas: weerhou jou vir die vasperiode van iets (buiten kos) wat ’n groot invloed op jou uitoefen of baie van jou tyd in beslag neem, soos bv. sosiale media en die kyk van TV.
Wees realisties indien jy vir ’n eerste keer wil vas. Moet liewer nie te veel hooi op jou vurk laai nie (over commit) nie. Dit is wys om jou liggaam op ’n vasperiode voor te berei deur bv. jou kafeïen en suikerinname te beperk. Dit sal help dat jy gedurende vas nie onnodig onttrekkingsimptome beleef nie.
Wat doen jy as jy jou vas per ongeluk breek of nie kan volhou nie? Wel, die doel van vas is dat jy jou van iets weerhou en in stede daarvan meer van jouself en jou tyd aan die Here wy. Hervat weer jou vas indien jy dit gebreek het. Moenie opgee en toelaat dat teleurstelling en skuldgevoelens jou beroof van die spesiale tyd van toewyding aan die Here nie. Stel die Here eerste en soek Hom asof jy nog vas. Stel in die vervolg meer realistiese doelwitte aan jouself. Indien jy siek of swak is, is dit raadsaam om eers jou dokter te raadpleeg alvorens jy met ’n vas begin.
Jesus sê dat vas (Mat 6:16-18) en gebed (Mat 6:7-13) ’n persoonlike element is van ons verhouding met die Vader. Kom ons vas nooit om ’n punt te bewys of iemand te probeer beïndruk nie. As ons uit die slegte voorbeeld van die "skynheiliges" (Mat 6:2) en Jesus se woorde aan hulle dié les kan leer, sal ons tyd van toegewyde vas en gebed ons verhouding met die Here vir seker versterk en verdiep.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag. Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/