Die Kuns om te OorkomVoorbeeld
Dag 7: Vreugde Het Die Laaste Sê
Ek het al by baie begrafnisse ook vreugde gesien.
Eintlik by die mééste begrafnisse. Selfs te midde van pyn en hartseer is dit algemeen om te sien hoe vriende en familielede vreugde uitstraal. Heel dikwels lag-huil diegene wat iets by die diens sê deur hulle woorde. Wanneer almal ná die diens vir 'n koppie tee bymekaarkom, is daar beide trane en 'n gelag terwyl mense die goeie tye onthou wat hulle met die oorledene gedeel het.
In Psalm 30:6b skryf Dawid: "Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” Paulus skryf iets soortgelyks in 2 Korintiërs 4:17: "Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly." Beide Dawid en Paulus kon verby die pyn van die oomblik kyk en sien dat daar iets groter in die toekoms lê.
Vreugde is natuurlik nie die eerste emosie wat jy voel wanneer die dood toeslaan of iets beëindig word nie. Vir die eerste ruk ná 'n verlies is die pyn werklik, die seer intens en die hartseer allesverterend. Ja, die trane mag dalk net 'n aand lank duur — maar dikwels is dit 'n lang en donker nag.
Alle nagte kom ook tot 'n einde, selfs die langste, hartseerste, donkerste nagte. Op die regte tyd sal die son opkom, die lig verdryf die donkerte en hoop verrys weer. Terwyl jy in die nag huil, is dit belangrik om te onthou dat die dagbreek kom, dat vreugde op pad is.
Dit is natuurlik ook waar dat vreugde nie jou lyding wegneem of jou verlies herstel nie. Aan die buitekant verander niks nie. Van binne egter, verander alles. Wanneer jou rou deur die vreugde van die Here herskep word, keer krag terug en begin hoop weer groei. Op daardie oomblik kry jy 'n duideliker, positiewer perspektief op die verlies wat jy gely het en die toekoms wat op jou wag.
Jy kan uiteraard nie vreugde forseer om te verskyn nie, nes jy nie die son kan dwing om op te kom nie. Tydsberekening maak saak. Tydperke kom en gaan. Op hierdie oomblik mag jy dalk huil, en dis ook goed — maar hou moed, dit sal nie vir ewig duur nie. Jy rou dalk vandag, maar jy sal gou genoeg weer kan dans. Vreugde het altyd die laaste sê.
Jy hoef nie vreugde te forseer nie, maar jy behoort dit te verwag. Wanneer dit kom, moet jy dit verwelkom! Rus daarin. Vind genesing daarin. Vind krag daarin.
______________________________
Het hierdie leesplan jou gehelp? Ons het die leesplan aangepas uit The Art of Overcoming deur Tim Timberlake. Lees die hele boek! Kry jou eksemplaar vandag nog! Elke kopie wat verkoop word, verskaf 'n Bybel aan iemand wat nie een het nie.
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe is vol terugslae, verlies, teleurstellings en pyn. "Die Kuns om te Oorkom" sal jou help om verlies, rou en seerkry te verwerk. Dit gaan daaroor om te weier om toe te laat dat die dinge wat soos die einde lyk jou ontmoedig of ontspoor. Laat God eerder elkeen in 'n nuwe begin verander. Wanneer die lewe verwarrend en moeilik is, moet jy nie toelaat dat jou moed jou begewe nie. Kyk na bo. Onthou, ongeag watter moeilike oomblik of pynlike verlies jy tans deurmaak, God is by jou.
More