Die Kuns om te OorkomVoorbeeld

The Art of Overcoming

DAG 3 VAN 7

Dag 3: Hartseer is Heilige Grond.

Enige ouer sal jou kan vertel dat dit hartverskeurend is om na die gehuil van jou kind te luister. Dis deel van 'n ouer se samestelling en instink om na hulle kinders om te sien. Kinders se pyn wek medelye, al is die "pyn" net 'n hardkoppige weiering om hulle oë toe te maak en te gaan slaap.

Eweneens weerklink ons pyn in die hart van God. Hy gee altyd om en Hy is altyd naby ons. Hy is nie 'n afsydige slawedrywer daar bo in die lug wat net belangstel hoeveel ons gedoen kry en of ons vandag gesondig het nie.

Hy gee innig om vir ons. Hy verstaan waardeur ons gaan. Hy deel in ons emosies.

Die Bybel verwys dikwels daarna dat God ons hulpgeroep hoor en ons lyding raaksien. Die klein sterftes of eindes waardeur ons gaan, roer God se hart. Ons is vir Hom oneindig waardevol, dus deel Hy ons pyn. Ongeag hoe klein of groot ons verlies in ander se oë is — miskien is jy nie bevorder soos jy gehoop het nie, is daar by jou motor ingebreek, is jou manuskrip deur 'n uitgewer verwerp, of het jou gesin se troeteldier gesterf — hierdie ervarings van verlies is vir God belangrik.

Voor Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, het Hy eers by die oorlede man se susters, Marta en Maria, aangegaan. Hulle harte was natuurlik gebroke, hulle sou selfs kwaad kon wees. In Johannes 11 kan jy dit in hulle stemme hoor weerklink. Op 'n stadium het Maria en die ander se rou vir Jesus met soveel medelye oorweldig dat Hy begin huil het.

Besef jy hoeveel dit van God se hart sê? Jesus het geweet dat Hy Lasarus weer uit die dood sou opwek — en steeds het sy medelye met hulle Hom tot trane gebring. Hulle pyn het vir Hom saak gemaak. Hy het nie hulle verlies geïgnoreer nie, Hy was saam met hulle daarin. Hy was saam met hulle in hulle lyding en het hulle trane gedeel.

Hoekom sou ons trane vir God saak maak?

Die antwoord is eenvoudig: Dis omdat óns vir God saak maak. Nie net ons produktiwiteit, ons heiligheid, ons vrygewigheid nie. In sy oë is jou pyn kosbaar. Jou rou en verlies is heilig.

Wanneer die dood dus toeslaan, moet jy nie haastig wees en jou hartseer probeer onderdruk nie. Moenie jou seer misken nie. Moenie jou verlies in die naam van geloof of krag as niks afmaak nie. Laat jouself toe om te voel wat jy moet voel vir so lank as wat jy nodig het, want die oomblikke van verlies wat jy ervaar is kosbaar in die oë van God.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

The Art of Overcoming

Die lewe is vol terugslae, verlies, teleurstellings en pyn. "Die Kuns om te Oorkom" sal jou help om verlies, rou en seerkry te verwerk. Dit gaan daaroor om te weier om toe te laat dat die dinge wat soos die einde lyk jou ontmoedig of ontspoor. Laat God eerder elkeen in 'n nuwe begin verander. Wanneer die lewe verwarrend en moeilik is, moet jy nie toelaat dat jou moed jou begewe nie. Kyk na bo. Onthou, ongeag watter moeilike oomblik of pynlike verlies jy tans deurmaak, God is by jou.

More

Baie dankie aan Biblica wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek: https://www.biblica.com/timtimberlake