Die Kuns om te OorkomVoorbeeld
Dag 5: God Wil die Mikrofoon Terughê.
Moes jy al ooit deur 'n begrafnistoespraak sit wat tien keer langer geduur het as wat dit eintlik moes? Ek moes al. Wat is dit met mikrofone wat mense totaal en al tred met tyd laat verloor?
Daardie oom van jou wat nét nie 'n storie kan klaar vertel nie, is nie die enigste een wat daaraan skuldig is dat hy 'n begrafnis kaap nie. Ons doen dikwels dieselfde wanneer dit by ons ervaringe kom van iets wat moet eindig. Ons rou daaroor, onthou dit, betreur dit — maar ons vergeet om die tyd dop te hou. Ons haak vas in die roustadium en weier om aan te beweeg.
Vroeër, eerder as later, wil God die mikrofoon terughê.
Die begrafnis moet aangaan. Soms moet Hy ons van agter por om ons te laat weet dat ons die rouproses moet staak. Hy moedig ons aan om te laat vaar en aan te beweeg. Die begrafnis moet aangaan, maar solank ons daarop aandring om die verlies aanmekaar te herleef, gaan daar geen einde wees nie.
In Psalm 23 vind ons die bekende woorde van Dawid: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.” Let op: Dawid praat daarvan om deur die vallei te gáán, nie agter te bly nie. "Donker dieptes" en die dood is nie veronderstel om aan ons langtermynverblyf te verskaf nie. Ons doel is om daardeur te reis, nie om permanent daar tent op te slaan nie. Die reis mag dalk 'n ruk lank duur, maar daar moet vordering wees.
Ek probeer nie om enigiemand voor te sê hoe om te rou nie, maar ek wil jou tog herinner dat jy nog in die land van die lewendes is, selfs al rou jy oor een wat gesterf het of iets wat finaal beëindig is. Die wye wêreld wag vir jou, en jy is 'n integrale deel daarvan. Moenie so lank aan die mikrofoon vasklou dat jy dit mis wat God vir jou in gedagte het nie. Verlies kan maklik die middelpunt van jou bestaan word, eerder as 'n tydelike plek waar jy net op jou reis aandoen.
Ek wil nie vir jou voorskryf wanneer jou rouproses na genesing moet oorgaan nie — dít is iets tussen jou en God.
Vra jouself dus af of God dalk besig is om jou aan te moedig om die mikrofoon vir Hom terug te gee. Sê Hy vir jou dat jou tydperke besig is om te verander, dat dit tyd is om die gedenkrede af te sluit en die toekoms in te beweeg? Indien nie, neem soveel tyd as wat jy nodig het om te rou.
Indien wel, laat sy genade jou vorentoe lei.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe is vol terugslae, verlies, teleurstellings en pyn. "Die Kuns om te Oorkom" sal jou help om verlies, rou en seerkry te verwerk. Dit gaan daaroor om te weier om toe te laat dat die dinge wat soos die einde lyk jou ontmoedig of ontspoor. Laat God eerder elkeen in 'n nuwe begin verander. Wanneer die lewe verwarrend en moeilik is, moet jy nie toelaat dat jou moed jou begewe nie. Kyk na bo. Onthou, ongeag watter moeilike oomblik of pynlike verlies jy tans deurmaak, God is by jou.
More