Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 38; Rut 4:12; Matteus 1:2–16
SOAP: Rut 4:12
“Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.”
Oordenking
Daar is konsekwente temas regdeur die boek Genesis, veral deur die patriargale narratiewe. Die verslag van Juda en Tamar gaan voort om hierdie temas te vertoon, wat oënskynlik geïsoleerde gebeure aan die res van die verhaal koppel.
Een van hierdie besonder duidelike temas is God se keuse van 'n jonger broer of suster bo die eersgeborene. Juda het probeer om die status van die eersgeborene te verkry deur Josef aan die Midianiete te verkoop. Juda was volgende aan die beurt aangesien sy drie ouer broers hulleself deur morele mislukking gediskwalifiseer het (sien Genesis 34; 35:22). Alhoewel God Josef gekies het om die een te wees om die dubbele deel van die eersgeborene te ontvang, sou Juda ook 'n seën ontvang vanweë sy bekering van sonde en daaropvolgende gehoorsaamheid.
Juda het sy broer verraai en as slaaf verkoop en toe sy pa bedrieg deur hom te laat glo dat Josef dood is. Hy het die dinge van die wêreld, boosheid en 'n lewe ver van God af gekies. Hy het by die Kanaäniete gaan woon, die volk van wie God die kinders van Israel beveel het om geskei te bly. Sy versuim om gehoorsaam te lewe het tot die dood van sy seuns gelei, aangesien hulle ook goddeloos voor die Here was. Juda het geweier om Tamar, sy skoondogter, aan sy seun Sela te gee nadat haar man gesterf het. God het Juda gedissiplineer soos Hy sy vader gedissiplineer het. Juda het sy pa bedrieg en is op sy beurt deur God gedissiplineer deur die bedrog van sy skoondogter.
Tamar staan uit as die enigste persoon in hierdie gebeure wat goed bedoel het. Terwyl ons dalk met minagting na haar optrede kyk, het sy probeer om haar toekoms te verseker en haar regte as die vrou van Juda se eersgeborene terug te eis. Te midde van ’n korrupte familie het sy Juda se geslag daarvan weerhou om met die Kanaäniete om te gaan. Sy het die familie beskerm en is in Israel se geskiedenis met respek en eer beskou. Haar optrede het die geslag van Juda verlos, die lyn waardeur God sy Seun in die wêreld sou bring.
Tamar se verhaal wys vir ons dat, ongeag die desperaatheid, of hoe ver sy uitverkore volk gedwaal het, is God die held. Hy is die een wat Juda gedissiplineer het en hom teruggelei het na sy vader se huishouding. Hy is die een wat geregtigheid vir Tamar bewerkstellig het en haar in Israel se geskiedenis vereer het. En selfs in die gemors van hierdie situasie, was die uiteindelike resultaat die geboorte van die Een wat die wêreld van sonde en dood sou red. Jesus Christus stam van Juda en Tamar af, en herinner ons daaraan dat ons God altyd sy goeie voornemens sal uitwerk, ten spyte van mense se sonde.
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/