Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 41
SOAP: Genesis 41:51–52
Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”
Oordenking
Die gebeure wat in Genesis hoofstuk 41 opgeteken is, dui op 'n groot keerpunt in die lewe van Josef. Alhoewel hy groot lyding beleef het, was God in beheer. Die soewereiniteit van God word vertoon deur die drome van Farao, die interpretasie wat Josef aangebied het, die eer en gesag wat as gevolg daarvan aan hom gegee is, en die name van sy kinders.
Josef was dertig jaar oud toe hy Farao in Egipte begin dien het; hy was sewentien toe sy broers hom aan die Midianiete verkoop het. Josef het ten minste twee van daardie dertien jaar in die tronk deurgebring, waarskynlik baie meer. Tog, alhoewel hy groot onregverdigheid en lyding in die gesig gestaar het, het Josef getrou aan God gebly, na Hom gestreef en in gehoorsaamheid gewandel, ongeag sy omstandighede.
God het sy soewereiniteit oor die nasies geopenbaar deur sy planne te openbaar om die Egiptenaars met 'n oorvloedige oes te seën en hulle dan met 'n groot hongersnood te verneder. God beheer alles, van die natuur tot die magtigste nasies en heersers. En toe hierdie magtige nasie nie die planne van God kon interpreteer nie, het Hy sy getroue dienaar in 'n ereplek herstel toe Hy sy soewereine planne tot stand gebring het.
Deur sy planne vir Egipte te openbaar, het God ook sy spesifieke planne vir Josef, sy uitverkore leier, geopenbaar. God, nie Farao nie, het Josef aangestel om in hierdie tyd in beheer van die nasie Egipte te wees. Josef se getrouheid in die klein dingetjies is geëer en hy is in beheer van baie dinge geplaas (Genesis 37:2; 39:1–6, 21–23). Uiteindelik, na baie hartseer en lyding, kon Josef God se wonderlike plan vir hom voor sy oë sien ontvou.
Die name van Josef se seuns toon sy dankbaarheid vir en erkenning van wat God in sy lewe gedoen het. Die naam Manasse was 'n herinnering dat God Josef toegelaat het om sy moeilikheid en sy vader se huis te vergeet. Efraim se naam was ’n herinnering daaraan dat God Josef toegelaat het om vrugbaar te wees in die land van sy lyding. Josef het God se voorsiening en sorg in sy lewe erken. Hy het God se werk en verlossing vir hom erken, en sy kinders se name was permanente herinneringe aan God se getrouheid.
Josef het konsekwent die dinge van God gekies. Hy was getrou in alles wat God hom gegee het, van sy vader se kleinvee tot Potifar se huis, van die gevangenis tot die hele nasie van Egipte. Sy getrouheid is 'n model vir volgelinge van Christus. Maak nie saak waar ons is nie, ons kan getrou en gehoorsaam aan God bly. Alhoewel dit dalk nie onmiddellik is nie, sal God eendag diegene beloon wat aan Hom toegewy is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/