Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

DAG 33 VAN 43

Lees: Genesis 44; Johannes 15:12–13; 1 Johannes 1:8—2:2

SOAP: Johannes 15:12–13

"Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê."

Oordenking

Nadat Josef saam met sy broers feesgevier het, het hy hulle deur een finale toets gesit deur hulle valslik van diefstal te beskuldig. Hy het hulle getoets om te sien of hulle Benjamin se lewe meer as hulle eie sou ag, iets wat hulle nie vir Josef gedoen het nie. Meer as twintig jaar het verloop sedert Juda voorgestel het dat Josef aan 'n groep Ismaeliete verkoop word. En verbasend genoeg was Juda die een wat bereid was om homself op te offer om Benjamin te red.

Hulle dade is geopenbaar. Hoewel hulle nie die misdaad gepleeg het waarvan hulle beskuldig is nie, het Juda hulle misdade teen Josef erken en erken hoe God hulle sonde aan die kaak gestel het. Hulle is beskuldig van wat hulle nie gedoen het nie, sodat hulle kon erken wat hulle gedoen het. Juda het Josef se lewe weggegee en hom vir twintig silwerstukke verruil. Maar Juda het 'n veranderde hart aan die dag gelê toe hy homself in Benjamin se plek geoffer het.

God het die eenheid van sy uitverkore familie deur hierdie gebeure herstel. Juda se bereidwilligheid om homself op te offer, het getoon dat hy geskik was vir leierskap in God se nasie – die grootste konings van God se volk sou uit sy nageslag kom. Sy optrede het 'n bereidwilligheid verteenwoordig om sy gesin te beskerm en eenheid te handhaaf, eenheid wat slegs herstel kon word as iemand gereed was om lyding namens sy broer te verduur.

Geslagte later sou 'n afstammeling van Juda die grootste daad van opofferende liefde verrig deur Homself vir die sondes van ander te offer. Hy het lyding verduur sodat ons gered kon word.

As mense het ons almal gesondig, almal gekies om teen God se gebooie in opstand te kom en ongehoorsaam te wees. As gevolg hiervan is ons eenheid met Hom verbreek. Maar, soos Josef se familie, word ons eenheid met God herstel weens die bereidwilligheid van iemand om namens ander te ly. Jesus Christus het Homself vir ons geoffer en die gevolge van sonde gely sodat ons verhouding met God herstel kon word. Sy offer is die grootste bewys van liefde en eenheid.

Slegs deur ons sonde voor God te erken, kan ons tot eenheid met Hom herstel word. As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself net en weerhou ons onsself van 'n lewe van vryheid in Christus. Wanneer ons ons sondes bely, is Hy getrou om ons te vergewe en ons verhouding met God die Vader te herstel. Hy is ons advokaat, ons weg na eenheid met die Vader omdat Hy sy lewe vir ons afgelê het. Sy liefde is ongeëwenaard!

Dag 32Dag 34

Aangaande hierdie leesplan

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/