Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

DAG 14 VAN 43

Lees: Genesis 32:22–32

SOAP: Genesis 32:28

Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

Oordenking

In Hebreeus word Jakob se naam uitgespreek as Ya'aqob. Dit klink soos die woord 'aqab, wat beteken "om die hakskeen vas te gryp" of "om te mislei." 'Aqab beteken letterlik "om die hakskeen vas te gryp", maar dit is figuurlik gebruik om misleiding te beskryf om voor te stel om iemand aan die hakke te pootjie. Jakob het letterlik sy tweelingbroer se hakskeen by sy geboorte gegryp, en hy het figuurlik vir 'n groot deel van sy lewe hakskene gegryp.

Jakob was 'n bedrieër. Hy het sy broer, Esau, sy pa, Isak, en sy oom en skoonpa, Laban, bedrieg. Om 'n bedrieër te wees, het Jakob se identiteit geword. Dit was selfs sy naam. Tog, in die laaste paar tonele wat ons lees, het die skrywer van Genesis 'n verandering beskryf wat in Jakob plaas gevind het. Hy het God gehoorsaam en na die land van sy vaders teruggekeer. Toe het hy gebid en God gevra vir bevryding van sy broer, Esau. Sy gedrag was besig om te verander. Maar die nag by die Jabbokrivier was die nag wat Jakob se identiteit uiteindelik sou verander.

Jakob het daardie nag met 'n man gestoei. Voor die son opkom, het die man vir Jakob gesê om hom te laat gaan. Toe Jakob weier om hom sonder 'n seën te laat gaan, het die man sy naam gevra. Jakob het weer die realiteit van wie hy was in die gesig gestaar: 'n bedrieër. Op daardie oomblik het God sy identiteit verander: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.

Op daardie oomblik het God vir Jakob 'n nuwe identiteit gegee. God het Jakob gemerk vir wie hy sou word, nie vir wie hy was nie. God het hom 'n nuwe identiteit gegee as 'n belofte van wat Hy sou aanhou om te doen. God sou voortgaan om sy belofte aan Jakob na te kom en hom te seën soos Hy met sy pa en oupa gedoen het. Jakob sou die seën ontvang en God sou steeds die eer kry. Jakob was kreupel die nag voordat hy sy eerste vyand sou trotseer; hy het die man in die gesig gestaar wat beloof het om hom dood te maak en hy was fisies gestremd. Jakob kon nie deur sy eie krag verlos word nie. God het dit vir Jakob duidelik gemaak dat Hy alleen sy bron van verlossing was; Hy alleen sou dit doen.

Dit is ongelooflik genadig van God om ons van ons vertroue op onsself te bevry. God sal sy doel deur sy krag alleen bereik. Hy het nie ons hulp nodig om sy planne te vervul of sy beloftes na te kom nie. Dit maak nie saak watter planne ons maak nie, God sal dit duidelik maak dat dit Hy alleen is wat ons verlos, Hy alleen wat red.

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Kies God, Nie Die Wêreld Nie

"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/