Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 30:25–43; Spreuke 3:1–12
SOAP: Spreuke 3:9–10
Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.
Oordenking
Genesis 29 en 30 is ‘n verhaal van Jakob se welvaart; eerstens is sy familie vermeerder deur baie kinders, daarna het sy besittings vermeerder, veral sy troppe skape en bokke. God het belowe om Jakob te seën en hom groot te maak (Genesis 28:13–15) en dit alles was die bewys dat God sy belofte nakom.
Op hul tipiese manier het Jakob en Laban nog ‘n kans gekry om mekaar te verkul. Laban en Jakob het albei besef dat Laban baie suksesvol was terwyl Jakob vir hom gewerk het. Dit het nou tyd geraak dat Jakob sy vergoeding ontvang. Die eerste kullery was toe Laban die gestreepte en bont skape en bokke uit sy troppe verwyder het sodat Jakob onmoontlik sy vergoeding kon ontvang.
Daarna het Jakob sy eie metodes toegepas om te verseker dat daar baie gestreepte en bont skape en bokke in die troppe is, veral sterkes en gesondes. Ons weet nie met sekerheid of dit in reaksie op Laban se optrede was en of hy dit uit die staanspoor so beplan het nie. As lesers wonder ons of Jakob en Laban se voortgesette wedersydse bedrieëry ooit sou end kry! Wat egter duidelik is, is dat Jakob voorspoedig was ten spyte van Laban se kullery
Jakob het besef dat die aanwas van sy kuddes as gevolg van God se seën was (Genesis 31:9). Selfs al was hy mislei en het hy homself aan bedrieëry skuldig gemaak, het God Jakob geseën en sy besittings vermeerder. Dit was nie Jakob se geslepenheid wat hom voorspoedig gemaak het nie, maar God se genadige seën. Ons hoef ons nooit tot sondige metodes te wend om God se goeie gawes te ontvang nie. Alhoewel Jakob nie volmaak was nie, het God in sy belang gewerk. God het geregtigheid laat geskied vir Laban se kullery deur Jakob te laat floreer. God het sowel Laban as Jakob se planne tersyde gestel om sy plan, om Jakob en sy nageslag te seën, te laat uitwerk.
Hoewel Jakob aanvanklik op sy eie planne staatgemaak het, het hy later besef dat sy voorspoed aan God se seën te danke is. Wanneer ons voorspoed in ons lewens beleef, in watter vorm ook al, erken ons dit as God se seën of as ons eie sukses? Om op onsself staat te maak is nadelig vir ons geloof. As ons op onsself staatmaak vir verlossing, seën en voorspoed, ontneem ons God van die eer wat Hom alleen toekom. Om God se manier te kies, beteken om Hom so te vertrou dat ons Hom gehoorsaam, selfs al lyk ons planne na ‘n meer betroubare opsie. Ware seën kan net van God af kom, en ons word geroep om Hom daarvoor te vertrou, maak nie saak wat nie.
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/