Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 29:31–30:24; Kolossense 3:1–3
SOAP: Kolossense 3:1–3
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Oordenking
‘n Deurlopende tema dwarsdeur die laaste helfte van Genesis is die verskil tussen ‘n lewe wat die dinge van God nastreef teenoor een wat die dinge van die wêreld verkies. Jakob en sy familie het voortdurend voor keuses te staan gekom wat hulle verplig het om te besluit of hulle die dinge van God kies of nie. In vandag se Skriflesing sien ons hoe ‘n lewe wat die dinge van God kies, die oorgawe van ons grootste hartsbegeertes kan insluit.
Lea en Ragel was voortdurend in ‘n wedywering gewikkel. Ragel was die een vir wie Jakob lief was; Lea kon baie kinders hê. Hulle het selfs hulle slavinne ingespan om nog meer kinders voort te bring, as ‘n manier om mekaar die loef af te steek. Die wedywering tussen die susters was ‘n simptoom van hulle swak geloof. Dit het getoon dat hul grootste begeertes dinge van die wêreld was: die liefde van ‘n man en om kinders te baar.
Die begeerte na kinders of ‘n man se toegeneentheid is op sigself nie sondig nie. Toe hierdie begeertes egter veroorsaak het dat Lea en Ragel met mekaar kompeteer, ander as voorwerpe vir hulle eie doelwitte gebruik en onmin in hulle familie veroorsaak, het dit hulle van die dinge van God weggelei.
Hoewel hierdie wedywering die susters se swak geloof openbaar, dui die manier waarop hulle hul kinders se name gekies het nogtans op hulle vertroue in God se karakter. Die kinders van Israel vertoon die karakter van God deur die name wat aan hulle toegeken is: Hy onthou en gee aandag aan die behoeftiges, Hy seën die verdruktes, Hy neem die smaad van sy volk weg selfs al verbrou hulle.
Die bedoeling met die vertelling van Jakob se familie is om te wys hoe God die familie geseën het. Jakob se baie kinders dui die begin aan van God se belofte om Abraham se nageslag so talryk soos die sterre in die lugruim te maak. Dwarsdeur die vertelling word ons aandag egter afgelei deur die kompetisie tussen die susters. Die wedywering het die susters se aandag so in beslag geneem dat hulle nie die seëning van die baie kinders wat God aan Jakob gegee het, kon waardeer nie.
Selfs al het jaloesie en wedywering dikwels Lea en Ragel se aandag afgelei, het God steeds sy seëninge oor hulle uitgestort. Ons doen niks om enige van die gawes wat Hy ons gee te verdien nie, maar Hy seën inderdaad ons gehoorsaamheid. Die dinge wat ons begeer, moet ons nie daarvan weerhou om God te loof en te gehoorsaam nie; dit behoort ons nader aan Hom te trek, óf deur vurige en desperate hulpkrete óf deur blye en dankbare aanbidding.
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/