Wanneer ’n Geliefde SterfVoorbeeld
Waarom, Here?
Mense sê graag ’n mens moet net soos ’n kind glo en geen vrae vir die Here vra nie. Jy moet net aanvaar watter swaarkry ook al oor jou kom. Maar dis verkeerd, want kinders vra juis aanhoudend vrae, baie meer as grootmense.
Daarom mag jy gerus in jou swaarkry vir die Here vra hoekom dit met jou gebeur. Die Psalmboek is vol sulke vrae. As dit verbode is om vrae te vra, selfs opstandige en aanvallende vrae, moet baie psalms uit die Bybel verwyder word, want die Psalmboek is vol vrae en eerlike gesprekke met God.
Die waarom-vrae in die Bybel is dikwels meer hartsvrae as verstandsvrae. Dit wil ’n verstaanbare verklaring hê, maar dit is nog meer ’n uitdrukking van die hart. Dit sê eintlik dat ’n mens baie ontsteld is – om watter rede ook al. Dit is net soos ’n kind se hoekom-vrae. Kinders wil ’n verstaanbare verklaring op hul vlak hê, terwyl hulle eintlik ook na veiligheid op soek is. Hulle vertrou meer op die persoon wat antwoord as die antwoord self. Daarom sal ’n kind later tevrede wees selfs as die verklaring bo sy begrip is, want dit kom van ’n ouer wat hy vertrou.
Dis waarom die antwoord op die hoekom-vraag oor die dood van ’n geliefde uiteindelik goed genoeg is, want dit is ons Vader wat antwoord. En dit is genoeg, selfs al voel dit soms onvolledig.
Worstel jy ook met jou eie hoekom-vrae? Moenie bang wees om dit vir God te vra nie. Skryf jou vrae neer en neem dit een vir een na Hom toe.
Hemelvader, soms dink ek ek moenie so baie vrae vra nie. Maar ons kinders vra mos maar aanhoudend. Vader, help my om van nou af eerder te vra “Waarheen nou?” as net “Waarom?” en “Gee my rigting” in plaas van “Gee my redes”. Ek weet dit sal my meer help. Amen.
Hierdie oordenkings is saamgestel uit WANNEER ’N GELIEFDE STERF deur Henk Gous © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer ’n geliefde sterf, word ons wêreld onderstebo gekeer. En terwyl ons as Christene die troos het om te weet dat ons die ewige lewe saam met God en ons geliefdes gaan deurbring, bly dit menslik om te rou oor hierdie verlies. In hierdie 7 dagstukke, geneem uit WANNEER ’N GELIEFDE STERF, lei dr. Henk Gous jou deur hierdie donker tyd sodat jy jou gemoed kan begin kalmeer.
More
Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/