Wanneer ’n Geliefde SterfVoorbeeld
Huil en huil
Die eerste aand ná ’n geliefde se dood kan jy nie slaap nie. Dis amper onmoontlik om jou gedagtes af te skakel. Al wat ’n mens soms laat slaap, is moegheid. Jy is moeg gehuil. Jou gesig is seer en rooi van trane afvee en neus blaas. Jy voel so dof soos Psalm 31 hierbo sê.
Liefde laat jou huil totdat jy nie meer kan nie. Dit sou makliker gewees het as dit iemand veraf was wat dood is, of iemand met wie jy al lankal kontak verloor het. Dís die prys van liefde, die risiko om vir iemand intens lief te wees. Daarom is elke traan wat jy huil, en nog gaan huil, die moeite werd. ’n Mens se geliefde is huil werd, baie huil, lank huil. Huil dus gerus.
Dis Jesus se plan dat ons in staat is tot hierdie bomenslike emosie, liefde. Dis sy plan dat dit vir ons voel of ons in die hemel is as ons liefkry en stukkend is as ons liefde verloor. Maar vir liefde verloor, gee Hy die medisyne van sy genade. Die genesing van hierdie eerste dag se onophoudelik huil is Jesus se genade, sy onfeilbare liefde wat altyd by ons is (Psalm 32:10). As ’n mens dalk alleen lê met net ’n kombers wat jou darem toevou, is God se arms rondom jou.
Dit is genesend om sommer net al die gedagtes en emosies in jou binneste neer te skryf, sonder dat dit noodwendig logies of mooi taalgebruik is. Om só te skryf, kalmeer jou gemoed. Daarom het hierdie dagstukke nadink-vrae wat jou aanmoedig om jou gemoed skoon te skryf. Skryf tot jou pen tot stilstand kom.
Skryf alles neer wat vandag in jou gemoed was.
Here, vandag kan ek nie baie sê nie. Ek is moeg gehuil en moeg gepraat met baie mense. Ek sukkel om te glo dit het regtig gebeur. U moet my asseblief help. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer ’n geliefde sterf, word ons wêreld onderstebo gekeer. En terwyl ons as Christene die troos het om te weet dat ons die ewige lewe saam met God en ons geliefdes gaan deurbring, bly dit menslik om te rou oor hierdie verlies. In hierdie 7 dagstukke, geneem uit WANNEER ’N GELIEFDE STERF, lei dr. Henk Gous jou deur hierdie donker tyd sodat jy jou gemoed kan begin kalmeer.
More
Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/