Vanuit Die HartVoorbeeld

Vanuit Die Hart

DAG 7 VAN 7

Die waarde van tyd

Die een vaardigheid wat ek elke dag gebruik, is tydsbestuur. Ek beskou dit as een van die heel belangrikste vaardighede van enige suksesvolle mens.

Het jy al ooit regtig oor jou tyd nagedink, en oor wat dit verteenwoordig? In 'n sekere sin kan tydsbestuur as “lewensbestuur” beskou word. Op die ou end is tyd al wat ons het. Daar is nie so iets soos “vrye tyd” nie en ons kan tyd nie opgaar om later te gebruik nie.

Deel van goeie tydsbestuur is om te leer om in die teenswoordige tyd te leef. Ons het reeds oor "chunking" gepraat. Om in die teenswoordige tyd te leef, gaan hand aan hand hiermee. Om die beperkte tyd wat ons het werklik goed te gebruik, is dit belangrik om elke oomblik ten volle te beleef. Wanneer jy besluit om tyd aan iets af te staan, gee jou volle aandag daaraan, want jy gaan die tyd nie terugkry nie. Maak daarom seker dit is die moeite en die tyd werd.

Dwight Eisenhower, die 34ste president van die VSA, het gesê: “Wat belangrik is, is selde dringend, en wat dringend is, is selde belangrik.” Hy het toe die Eisenhower-beginsel geskep om mense te help om hulle take goed te bestuur wanneer hulle tyd min was. Hierdie beginsel bestaan uit ’n groot vierkant wat in vier kleiner vierkante verdeel is, wat jy dan kan gebruik om jou take in vier verskillende kategorieë te verdeel: dringend en belangrik; dringend, maar nie belangrik nie; belangrik, maar nie dringend nie; nie belangrik of dringend nie.

Moet jy baie take afhandel, maar jy het baie min tyd om dit te kan doen? Teken so 'n vierkant. Deel dan jou take in volgens die vier kategorieë. As ’n taak dringend en belangrik is, sit neer jou pen, hou op lees en gaan doen dit nou. As ’n taak dringend is, maar nie belangrik nie, vra iemand wat jy vertrou om dit vir jou te doen. As ’n taak belangrik is, maar nie dringend nie, kies ’n tyd wat jou sal pas om dit te doen. As ’n taak nie belangrik of dringend is nie, sit dit uit jou gedagtes.

Ek weet uit ervaring dit is makliker gesê as gedaan, maar ons kan dit vir seker regkry.

Tyd is kosbaar en om ons tyd reg te bestuur, is ’n vaardigheid wat ons kan aanleer.

Hierdie oordenkings is geneem uit VANUIT DIE HART deur Rolene Strauss © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Vanuit Die Hart

Rolene Strauss ken die eise van ma- en vrou-wees. Dit is haar passie dat elke vrou moet besef hoe waardevol sy is en dat sy haarself nie aan ander se skewe maatstawwe moet meet nie. In die volgende 7 dae gesels sy met vroue oor verantwoordelikhede, ware skoonheid en tydsbestuur – dinge wat vir die meeste vroue en ma’s alledaagse uitdagings is. Hierdie leesplan is saamgestel uit VANUIT DIE HART.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/