Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld
Lees: Johannes 20:19–31
SOAP: Johannes 20:31
"Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê."
Oordenking
Soos ons aan die einde van die evangelie van Johannes kom, vind ons dat die skrywer vir ons 'n verduideliking gegee het van sy redes hoekom hy hierdie boek geskryf het. Hy het spesifieke gebeure in die lewe en bediening van Jesus gekies, en dit in 'n teologiese argument georganiseer sodat enigeen wat sy woorde lees, sou glo dat Jesus die Seun van God is en lewe in sy Naam sal hê.
Dwarsdeur hierdie evangelie vind ons baie getuienisse oor wie Jesus is. Sommige het gekom van diegene wat in Hom geglo het, insluitend Johannes die Doper, Jesus se eie dissipels en 'n Samaritaanse vrou. Diegene wat die wondertekens wat Jesus gedoen het, aanskou het, het getuies aan die wêreld geword oor wie Hy is. Jesus het selfs oor Homself getuig en gesê Hy is die Brood van die Lewe, die Lig van die Wêreld, die Deur, die Goeie Herder, die Opstanding en die Lewe, die Weg en die Waarheid en die Lewe, en die ware Wingerdstok.
Al hierdie aansprake en getuienisse laat Johannes se gehoor toe om te weet wie Jesus is en, in reaksie, in Hom te glo en die ewige lewe te verkry. Die dissipels wat getuies van hierdie gebeure was, het geglo — want hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Die dissipels was betroubare getuies omdat Jesus Homself aan hulle geopenbaar het op maniere wat Hy Homself nie aan die wêreld geopenbaar het nie. Hulle het Hom na sy opstanding gesien en getuig dat Hy waarlik opgestaan het.
Johannes se evangelie is vir twee gehore geskryf. Eerstens, diegene wat nie glo dat Jesus die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe is nie, kan Johannes se evangelie lees en die waarheid vind. Hulle kan betroubare getuienisse van Johannes en die ander dissipels hoor oor hoekom Jesus is wie Hy sê Hy is. Tweedens het Johannes sy evangelie aan gelowiges in Christus geskryf sodat hulle in hulle geloof versterk sou word. Die opgetekende private bediening van Jesus is 'n bewys van sy liefde en sorg vir diegene wat in Hom glo.
Die Evangelie volgens Johannes is 'n meesterstuk, geskryf deur iemand wat geen formele literêre opleiding gehad het nie. Ons sien die inspirasie van die Heilige Gees deur elke woord. Met die hulp van die Heilige Gees het Johannes hierdie kunswerk saamgestel om vir die wêreld 'n getuie van Jesus Christus, die Seun van God, te wees sodat almal wat dit lees, lewe in sy Naam kan vind.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/