Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

DAG 3 VAN 14

Vas oortuig

Vanoggend het ons die laaste byeenkoms in die dorpie Hopefield teen die weskus van die Wes-Kaap gehou. Dit is ’n dorpie met een winkel en een bank (en die bank het nie eens ’n bestuurder nie). Ten spyte van hoe klein die dorp is, het ons 5 000 mense vol verwagting in ’n tent gevind, waar hulle gewag het op “daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel” (Rom. 8:19). 

Dit het sedert gisteraand onophoudelik oor die tent gereën. Ek het my dierbare vrou op ons plaas in KwaZulu-Natal gebel, baie ver van waar ek nou is, en haar gevra hoe die weer daar by die huis is. Sy het gesê: “Die son verskroei ons. Die mielies verskrompel. Daar is geen teken van reën nie en dit is baie, baie warm.” Ek het God gevra: “Here, wanneer die vliegtuig vanaand om halfnege land en ek van Durban se lughawe af huis toe ry, kan ek asseblief die hele pad in die reën ry en ontdek dat dit ook op die plaas, op my seuns se gewasse, reën?”

Ons het vanoggend gesien hoe baie mense hulle lewens aan Christus gegee het. Ons het gesien hoe mense hulle lewe die eerste keer aan die Here oorgegee het; daar was ook dié wat hulle lewe opnuut aan Hom oorgegee het. Ek het lanklaas soveel genesings beleef. Die diens het om halfelf begin en byna eenuur eers klaargemaak. Daarna het ons drie uur lank lughawe toe gery en die vliegtuig bestyg. Geen teken van reën nie. Toe ons die lughawe in Durban nader, het dit begin reën. Dit het nie een oomblik opgehou reën nie, en ons het die hele pad in die reën huis toe gery. Alle dank aan God!

Ons vertroue lê nie in onsself nie. Ons vertroue is in God. Ons is vas oortuig dat Hy alles wat Hy in ons lewe begin, sal voortsit en voltooi op die dag wanneer Jesus Christus weer verskyn. Dit gee vir ons die geloof om hierdie wedloop enduit te voltooi.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/