Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld
Feite, nie gevoelens nie
Hoe voel jy vandag? Voel jy of jy die wêreld oorwin het, of voel jy dalk nie so goed nie? Jou geloof het niks met jou gevoelens te doen nie. Dit is hoekom Paulus in 2 Korintiërs 5:7 sê ons leef deur te glo, nie deur te sien nie. In vandag se vers sê Job die Here kan hom maar tref en doodmaak, maar hy sal aanhou om Hom te dien. Job het deur hel gegaan. Hy het sy gesin, sy besittings en sy gesondheid verloor. En tog het hy bly vertrou op die getroue Een. Dit is hoekom hy so optimisties kon wees te midde van sy neerdrukkende omstandighede.
Wanneer mense by ons byeenkomste sien hoe siekes genees, gevangenes vrygemaak, stukkende harte heelgemaak en, bowenal, mense verlos word, kom hulle ná die tyd na my toe en vra: “Sal jy asseblief bid dat God vir my meer geloof sal gee?” Ons sê altyd vir hierdie mense ons bid nie dat God vir hulle meer geloof sal gee nie, maar dat Hy vir hulle ’n groter honger na sy Woord sal gee. Romeine 10:17 sê: “Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die goeie nuus wat oor Christus handel.” Dit is wanneer ons begin vertrou op die Een wat getrou is dat ons geloof toeneem. Die Woord sê in 1 Johannes 5:7-8: “Daar is dié drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.” Jesus is die Woord wat mens geword het. As jy nader aan Jesus wil kom, moet jy meer tyd in die Woord van God deurbring.
Moenie so besorg wees oor wat die koerant of die weervoorspelling sê nie. Moenie eens so besorg wees oor wat die spesialiste in hulle verslae sê nie. Wees vandag meer besorg oor wat Jesus oor jou in die Woord sê.
Onthou, jou omstandighede bepaal nie jou perspektief nie. Jy het dit seker al voorheen gehoor: Jou gesindheid sal bepaal hoe hoog jy vlieg. As jy vandag ’n gesindheid van vertroue inneem, as jy doodseker is niks kan sonder God se toestemming met jou gebeur nie, het jy niks om oor bekommerd te wees nie. Hou net aan om vir die Here te leef en jy sal aan die einde van hierdie dag kan sien wat Hy vir jou gedoen het.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/