Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

DAG 10 VAN 14

Vertrou op God 

Daar is ’n dwaalgedagte in talle Christelike kringe dat wanneer mense swaarkry, daar sonde in hulle lewe moet wees. As dit die waarheid was, impliseer dit dat Jesus Christus aan die kruis op Golgota gesterf het omdat Hy baie verkeerde dinge gedoen het. Ons gaan in hierdie lewe om vele verskillende redes deur beproewings. Een ding wat ons vir seker kan weet, is dat elke beproewing wat ons moet oorkom ons geloof laat groei.

Die een ding wat ons nooit moet doen nie, is om God te bevraagteken. Dit lei ons na ’n pad van neerlaag. Ons moet Hom vertrou, Hom liefhê en weet Hy is vír ons, nie teen ons nie.

Dit is waar geloof inkom. Geloof is nie ’n geval van leef deur te sien nie (2 Kor. 5:7). Geloof is om God se beloftes te glo. As Christene se geloof bepaal word deur die hoogte- en laagtepunte in hulle lewe, sal ons op ’n geestelike tuimeltrein leef. Ons kan met Paulus saamstem dat ons weet alle dinge werk ten goede saam vir dié wat die Here liefhet en wat volgens sy doel vir hulle lewens geroep is (Rom. 8:28). 

Toe my broerskind in ’n tragiese ongeluk oorlede is nadat hy van die trekker wat ek bestuur het, afgeval het, was ek verpletter. Tog het ek nie een keer vir God bevraagteken nie. Ek ken God en ek ken sy karakter. Ek weet hoe God is. Ek het geleer om Hom lief te hê en te vertrou met alles wat ek het. Ek het geweet Hy sou nie so ’n tragedie laat gebeur het om my te straf of selfs om my te laat groei nie. Ek het aangehou vertrou op sy goedheid en ek kan eerlikwaar sê dat die Here my verlos het uit die duisternis en die skynbaar bodemlose put waarin ek my in daardie tyd bevind het. Wanneer ek nou terugkyk, sien ek dat sommige van die kere toe ek die naaste aan die Here Jesus Christus gevoel het, tye was toe niemand anders my kon help nie, net my Here. En Hy het my nooit laat los of verlaat nie (Heb. 13:5).

Ongeag watter uitdaging jy nou moet hanteer, onthou: Om ’n Christen te wees, gee vir ons geen waarborg dat ons probleme iets van die verlede sal wees nie. Dit gee ons egter wel die waarborg dat ons meer as oorwinnaars sal wees deur Hom wat vir ons lief is.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/